Gallery
GEORGE NUUS - 'n Voormalige SA spiesgooikampioen, Herman Potgieter (67), wat oorspronklik van die Suid-Kaap kom en groot sukses met die afrigting van veldatlete by Hoërskool Outeniqua behaal het, is Woensdag 28 April in Parys in die Vrystaat oorlede.
Potgieter en sy eggenoot, Marianna, het 'n paar jaar gelede van George na Parys verhuis. Hy is rustig by sy huis oorlede.
Potgieter was in die verlede een van Suid-Afrika se bekendste atlete en was in die 70's en 80's 'n Springbok. Op sy dag was hy verskeie kere die SA spiesgooikampioen en hy kon ook die SA spiesgooirekord agter sy naam skryf.
As gevolg van die internasionale boikot teen Suid-Afrika in die vorige politieke bedeling, kon hy ongelukkig nooit aan die Olimpiese Spele deelneem nie.
Hy is deur baie as 'n legende in die sportwêreld beskou.
Fotogalery: Herman Potgieter, voormalige SA spiesgooikampioen
In 1988 is hy ernstig in 'n motorongeluk beseer. Hy het sy been verloor en was daarna in 'n rolstoel.
Na sy uittrede, het hy gehelp met die afrigting van veldatlete by Hoërskool Outeniqua. Dit was in dié tyd dat die skool verskeie medaljes by die SA junior atletiekkampioenskappe gewen het.
Wyle Herman Potgieter.
Sedert die nuus oor sy afsterwe bekend geword het, het huldeblyke ingestroom.
Herman Potgieter junior het Maandag gesê sy pa het na sy ongeluk voortgegaan met afrigting. "My pa was baie lief vir sport en het 'n vegtersgees gehad."
Volgens Potgieter het sy pa die laaste paar jaar van sy lewe sy "pad met die Here" reggemaak. Hy was baie lief vir Jesus. Hy het sy lewe op 'n groter hoogtepunt afgesluit, as net die atleet waarvoor almal hom geken het.
Sy dogter, Elzette van't Hull, het gesê haar pa was 'n lewenslustige mens. "Hy wou altyd mense help, veral jong atlete."
Nieteenstaande die ongeluk, het hy voortgegaan met sy groot passie, sport.
Piet Cloete, adjunkhoof: sport van Hoërskool Outeniqua, het gesê Potgieter het diep spore by die skool getrap. Hy het op drie vlakke 'n groot rol gespeel.
Eerstens was hy betrokke by spiesgooi afrigting. "'n Hele paar van die leerders het onder sy afrigting medaljes by die SA junior kampioenskappe gewen. Hy was ook vir baie jare die bestuurder van die skool se gimnasium."
Voorts was hy betrokke by die werwing van sportleerders by laerskole.
Potgieter het 'n liefde vir sport gehad.
Potgieter word oorleef deur sy eggenoot, Marianna, Herman Potgieter junior, Elzette van't Hull en vier kleinkinders.
'n Gedenkdiens word Saterdag 8 Mei om 11:00 by Little Rock-gastehuis in Jongensfontein naby Stilbaai gehou.
One of South Africa's most well-known athletes Herman Potgieter (67) died last week at his home in Parys, in the Free State. He moved from George to Parys a few years ago. In the past, he was a South African javelin champion and record holder. He was also a Springbok. During his stay in George, he helped with the training of field athletes at the Outeniqua High with great success.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'