GEORGE NUUS - Die ou klipgebou in Pacaltsdorp sal moontlik gebruik word as 'n sentrum vir besigheidsontwikkeling en ook om as 'n veilige hawe vir senior burgers te dien, indien geen besware of teenvoorstelle tydens die publieke deelname proses aangeteken word nie.
Die George-munisipaliteit het agt aansoeke ontvang om die gebou te gebruik en het uiteindelik die Pacaltsdorp Community Business Association (PCBA) asook die Creative Community Development Project (CCDP) gekies.
Tot 2020 is die gebou deur die Pacaltsdorp Service Centre for Older Persons gebruik, maar Covid-19 het hul forseer om toe te maak en sedertdien staan die gebou leeg.
Die PCBA sal die gebou drie keer per week aan die CCDP beskikbaarstel van 08:00 tot 14:00 om hul dienste aan die bejaarde gemeenskap te lewer. Dit sal ook dien as 'n rusarea vir ouer persone wat die kliniek oorkant die pad besoek.
Die PCBA wil die gebou gebruik vir besigheidsontwikkeling, om hul sosiale verantwoordelikhede na te kom (jeug en vroue bemagtiging), om vaardighede te help ontwikkel en sal ook dien as 'n middelpunt vir toerisme en om kuns en kultuur te bevorder.
Volgens dr. Kosie Haarhoff, waarnemende direkteur van menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling by die munisipaliteit, moet die publiek kennis neem dat daar geen vergaderings gehou word vir die openbare deelname proses nie.
Enige kommentaar, besware, teenvoorstelle en verteenwoordigers soos aangedui in die advertensie kan skriftelik by die munisipaliteit se kantore ingedien word of per e-pos gestuur word na die adres wat in die advertensie verskaf word.
Die sluitingsdatum vir hierdie proses is 29 Augustus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’