GEORGE NUUS - 'n Hartverskeurende brief geskryf deur Triena van der Merwe waarin sy die dood van haar dogter Madré Johnston, wat swanger was, haar skoonseun Tony en haar kleinseun Michael betreur, is Dinsdagoggend voorgelees tydens AfriForum se direkte uitsending van die bevindinge deur die forensiese wetenskaplike, dr. David Klatzow na aanleiding van sy ondersoek na die Junie 2017 Knysna-brande.
Die brief getitel, Geregtigheid moet geskied - die waarheid moet uitkom is gedeeltelik voorgelees en word beskou as deel van die dringende noodsaaklikheid om die tragiese verlies aan kosbare lewens, soos dié van die Johnston-egpaar, te verhoed. Hulle was bekend vir hul liefde vir mekaar en hul medemens. Hulle was vol drome, en hardwerkend. Dit is 'n groot verlies vir die samelewing.
Triena, wat op Despatch in die Oos-Kaap woon, skryf:
Op 31 Mei 2017 gaan ons met liefde, baie drukkies, hartseer en ook 'n tikkie blydskap uitmekaar, want oor 'n paar weke kom ons lank kuier wanneer Boetie na wie almal met baie vreugde uitsien, gebore word. Op 6 Junie kry ons 'n scan van baba, hy is baie gesond, weeg al 2,5 kg.
Op 7 Junie, op Michael se derde verjaardag, kry ons die verpletterende nuus dat al vier ons lieflingkinders dood is in die brand. WAAROM GOD!!! WAAROM SO!!! Geen groet, hul alleen, ons kon nie afskeid neem nie.
Tony se woorde: "Pa en Ma moenie bekommerd wees oor die 'smeulende rook' nie. Die brandweer kom môre kyk en sal iets daaraan doen." As hulle maar toe, of vroeër iets daaraan gedoen het, sou ons kinders nog geleef het. Hul plek, hul huis, al hul besittings, hul verlede, saam met hul lewens, alles binne 'n paar minute totaal uitgewis, so asof hul nooit bestaan het nie.
Ek mis julle verskriklik baie, julle het ons geneem na plekke waar ons nog nooit was of gesien het nie. Dinge laat doen en ervaar. Wou altyd die beste vir ons gee of doen.
So trots op julle, kon ure van julle praat. Jul so skielik van ons weggeneem. Nog so baie dinge wat jul wou doen, jul drome oor 'n eie besigheid. Jul nog so jonk. Nie julle of ons het eens die voorreg gehad om julle baba net een keer vas te hou nie.
Ek het 'n foto gesien van my kinders na die brand. WAAROM GOD?? Daar is so baie vrae in my kop waarmee ek worstel en waarop ek nie antwoorde kry nie.
Vrae, vrae, vrae - onbeantwoord. Nou lê ons vier kinders in die laai. Net as in askissies. Niks kan hul terugbring nie. Geregtigheid moet geskied.
Baie dankie vir AfriForum en al die betrokkenes vir wat jul doen en dat jul opstaan vir geregtigheid in hierdie saak.
Lees die volledige brief hier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'