GEORGE NUUS - Die jong skaakspelers van die Suid-Kaap wat Vrydag op die O.R. Tambo internasionale lughawe in Gauteng gestrand was, is veilig terug by die huis.
Hulle was in ‘n “skaakmat-situasie” nadat hulle vlug terug na George vermoedelik nie bespreek was nie.
Die groep van 125 het in Gauteng aan die SA Junior-skaakkampioenskappe deelgeneem. Die meerderheid van die kinders is tussen 10 en 13 jaar oud en is minder bevoorreg.
Hulle het vanoggend (22 Desember) omstreeks 07:00 in George gearriveer nadat hulle met twee busse regdeur die nag gery het.
Blykbaar het nie al die ouers betyds vir die retoervliegtuigkaartjies betaal nie.
Henriette Beukes, een van die kinders se ouers het vanoggend aan die George Herald gesê sy en van die ander ouers wil weet wat gebeur het en oorweeg regstappe.
Volgens haar het sy bewyse dat sy vir haar kind, Kyle (16) se vliegtuigkaartjies betaal het.
“Dit is die eerste keer dat ek hom toegelaat het om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Johannesburg te gaan deelneem. Die enigste rede was omdat daar vlugreëlings in plek was. Hy het voorheen al deelgeneem aan die kampioenskappe in onder meer Port Elizabeth, Kimberley en Kaapstad.”
Hy het ook al voorheen gekwalifiseer om aan die kampioenskappe in Johannesburg deel te neem, maar sy het hom hom nie toegelaat om te gaan nie.
Sy het vertel dat die kinders om 13:05 sou gevlieg het. Hulle sou om 15:05 in George aangekom het. Die kinders was al op die lughawe.
Van die ouers het verlede Saterdag navraag gedoen oor die retoervlug. Hulle het toe gehoor die vlug was nie geregistreer nie. “Ons was oortuig dat alles in die week uitgesorteer sou word.”
Een van die ouers het haar Vrydag omstreeks 12:30 gebel en meegedeel daar is probleme met die retoervlug. Die ouer was baie ongelukkig.
Later het Kyle haar per boodskap laat weet dat hulle per bus gaan terugkeer. Die busse het omstreeks 14:30 vertrek.
“Die kinders het reg deur die nag gery. Ons was baie bekommerd. Dit was die langste nag van my lewe. Ek het niks geslaap nie. Ek sou hom nooit gestuur het, as ek geweet wat gaan gebeur.”
Kyle het gesê hy is baie ongelukkig oor die voorval. “Dis ‘n vreemde situasie en dit laat ‘n wrang smaak. Ek is moeg. Dit is iets wat ons nie verwag het nie.”
Hy het bygevoeg dat die busrit goed afgeloop het.
Ziska Michaels, ’n skaak-ouer van George wat die reisreëlings behartig het, het Saterdag gesê sy het op eie onkoste die busse gereël.
Volgens haar het van die ouers nie betyds die geld vir die retoervlug betaal nie. “Ek het dit gedoen ter wille van die kinders. Dit gaan suiwer oor die bevordering van skaak. Dit gaan nie oor die status van mense in die gemeenskap nie.
“Ek het simpatie met die ouers. Ek is self ‘n ouer.
“Daar is ‘n manier om ‘n ding op te los. Hoekom het van die ouers na die media gehardloop?” wou sy weet. “Ek dankbaar almal is veilig.”
Peter Steyn, president van Eden-skaak, het gesê die voorval gaan ondersoek word. “Ons is baie bly almal is veilig terug. Ons kan nie in die stadium die ondersoek vooruit loop nie.”
Hy het kontak gehad met Ziska en haar man.
“Ons beskou die voorval in ‘n ernstige lig en is net baie dankaar dat alternatiewe reisreëlings getref kon word.”
Volgens George Swart, skole-verteenwoordiger by Eden-skaak is hy bewus van die voorval. “Dit word ondersoek.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'