GEORGE NUUS - Skerp stygings in lewenskoste maak dit vir ontvangers van die maatskaplike ouderdomspensioen al hoe moeiliker om hul uitgawes te dek, volgens 'n protesgroep in George wat 'n verdubbeling van hul pensioen eis.
'n Klein groep senior burgers, met die ondersteuning van Team Strong Women, het Maandagoggend, 7 September, by die kantore van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) in Courtenaystraat byeengekom en 'n memorandum oorhandig waarin hulle eis dat die maandelikse pensioen van R2 400 na minstens R5 000 verhoog word.
Hulle beroep hulle op die grondwetlike beskerming van menswaardigheid en die reg op maatskaplike sekerheid, en verwys spesifiek na Artikels 10 en 27 van die Grondwet.
Linda Smit, voorsitter van Team Strong Women, wat die memorandum namens die protesgroep ingedien het, het gesê vanjaar se verhoging in die ouderdomspensioen spreek nie seniors se krisis aan nie.
Volgens verskeie persone in die groep is die pensioen nie naastenby voldoende om selfs vir basiese noodsaaklikhede te betaal nie en hulle sukkel toenemend weens die voortdurende styging in pryse van voedsel, elektrisiteit, mediese sorg, vervoer en behuising.
Joanie Visagie-Jantjies, 'n gemeenskapsaktivis, het gesê van die Sassa-toelaes aan jongmense kan eerder geskrap word. Sy het gesê die jongmense wat die maatskaplike noodlenigingstoelaag (SRD) van R370 kry, "maak die kinders lui". "Gee eerder vir hulle werk."
Sy het ook gesê die kot-toelaag (kinderversorgingstoelaag) vir skoolgaande meisies met babas moet weggeneem word. "Hulle kry met opset kinders omdat hulle sakgeld wil hê en dan moet die oupas en oumas na die kleintjies kyk, want die meisies sit op skool."
Een van die seniors, Clara Swartz, wat deelgeneem het met haar protesboodskap.
Mervyn Witbooi het gesê senior burgers het 'n bydrae tot die staatskas gelewer deur belasting te betaal en hulle verdien om na gekyk te word. Daar was ook klagtes en ontevredenheid onder verskeie protesteerders oor administratiewe klagtes wat nie aangespreek word nie.
Sal eis eskaleer
Die protesgroep het 'n formele skriftelike reaksie binne 14 dae ná die oorhandiging van die memorandum geëis. Indien hulle nie 'n bevredigende reaksie ontvang nie, is hulle van voorneme om die saak na die Openbare Beskermer, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die toepaslike Parlementêre Portefeuljekomitee te eskaleer.
Shivani Wahab, Sassa se direkteur van kommunikasie, het gesê die memorandum sal vir oorweging na die relevante owerhede verwys word.
"Sassa administreer en betaal maatskaplike toelaes in ooreenstemming met goedgekeurde regeringsbeleid en wetgewing. Besluite rakende die waarde van toelaes word deur die regering geneem deur middel van die nasionale begrotingsproses, onder leiding van die Nasionale Tesourie, en word nie deur Sassa geneem nie.
"Sassa respekteer die reg van burgers om hul bekommernisse vreedsaam te opper en waardeer dit dat die optrede op 'n ordelike wyse plaasgevind het."
Linda Smit, voorsitter van Team Strong Women.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’