GEORGE NUUS - Kort na Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) se noodgedwonge skuif van sy perseel in Blanco na nuwe tydelike persele, het nuwe uitdagings gekom: die ysige winter.
Verlede Woensdag, 18 Junie, het die sangeres, Nádine, al die pad van Gauteng gereis om vreugde en warmte vir honde namens baie van haar ondersteuners, by een van Odin se nuwe tydelike persele in die Langkloof te bring.
Sy was vergesel van haar ma, Carine, wat ook as haar agent optree, en 'n vriendin. Toe hulle kort na 14:00 by die perseel opdaag was dit koud en het dit by tye liggies gereën.
Dit het egter nie die geesdrif gedemp toe die groot klomp goedere afgelaai is nie. Woensdag se groot oorhandiging was die uitvloeisel van 'n wekroep wat Nádine onlangs op sosiale media geplaas het.
Dit het haar ore bereik dat Odin komberse benodig om die diere warm te hou. As kunstenaar het sy 'n groot klomp volgelinge en ondersteuners. Sy het mense gevra om komberse te skenk en 'n donasie te maak.
In George het Nádine en haar span nog goedere aangekoop. Uiteindelik is alles in 'n waentjie en 'n bussie gelaai en afgelewer. Nádine was duidelik aangedaan toe sy die oorhandiging gedoen het. Sy het gesê sy wil 'n verskil maak en almal bedank wat gehelp het.
Volgens haar moet meer vir dierewelsyn gedoen word en plaaslike owerhede kan meer betrokke raak om te help. Sy glo daar moet gepoog word om meer diereorganisasies op die been te bring en mense moet help waar hulle kan.
Marlene Mennie, bestuurder van Odin, het gesê dis nou winter en die komberse gaan help om die honde warm te hou. "Dis te danke aan Odin se ondersteuners dat die organisasie sy goeie werk kan doen."
Mense kan steeds die honde aanneem of in pleegsorg neem. Donasies is welkom en dit word ook gebruik in uitreikaksies.
Odin is baie dankbaar teenoor Nádine en haar ondersteuners vir hulp.
Wat Nádine en haar span afgelaai het
Van die goedere wat afgelaai is, is: 218 komberse, 5 x 40 kg hondekos, 18 x 20 kg droë premium kwaliteit hondekos,
25 x sakkies Karoo natkos, 5 x nuwe groot beddens vir groot honde, 10 x "bucket" beddens, beskuitjies, 10 x groot blikke kos en 84 x goeie ontwurmingsmedikasie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’