Update
UNIONDALE NUUS - Die saak teen Marthinus Loock en sy pa, Johannes Loock, is Maandag in die Uniondale-landdroshof van die rol geskrap. Dit spruit uit voorvalle op die dorp in Julie.
Onrus het op 15 Julie uitgebreek nadat een persoon in 'n brand in 'n informele nedersetting gesterf het. Grootskaalse geweld oor dienslewering het daarna uitgebreek en verskeie mense is in hegtenis geneem.
Nico Gerber en Marthinus Loock het later midde in die onrus beland. Gerber is daarvan beskuldig dat hy na bewering 'n vuurwapen onwettig in 'n munisipale gebied op Uniondale afgevuur het. Hy is later aangekeer.
Die saak is onlangs van die rol geskrap. Marthinus was die dag op pad na sy pa met 'n geweer, toe hy na bewering 'n skoot afgevuur het. Hy is later aangekeer. Sy pa is nie aangekeer nie, maar albei moes in die hof verskyn.
Adv. Gert van Niekerk wat namens die Loocks opgetree het, het by navraag bevestig dat die saak van die rol geskrap is.
Hy het gesê die twee betrokkenes het 'n grondwetlike reg tot 'n spoedige verhoor. Dit was nie in belang van geregtigheid dat die saak so sloer nie.
Hy het dit verwelkom dat die saak van die rol geskrap is.
Volgens Van Niekerk het Marthinus Loock reeds begin met die proses vir 'n siviele eis teen die polisie vir onregmatige arres en aanhouding. Die reg moet nou sy loop neem. Meer besonderhede sal later bekendgemaak word.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Uniondale, Tuinroete nuus'