UNIONDALE NUUS - Ontevrede inwoners van Uniondale sal vandag (Donderdag) na verwagting terugvoer oor diensleweringsaspekte van die George-munisipaliteit kry.
Onrus het verlede Maandagoggend, 15 Julie, op die dorp uitgebreek. Dit het gevolg na 'n persoon in 'n brand in 'n informele nedersetting gesterf het. Grootskaalse geweld het uitgebreek en verskeie mense is in hegtenis geneem.
Inwoners het verlede Dinsdag sekere eise gestel wat in twee memorandums vervat is. Dit is aan George-burgemeester, Melvin Naik, oorhandig. Hulle het die munisipaliteit 48 uur tyd gegee om te reageer op griewe oor die brandweer en sewe dae op diensleweringsgriewe. Naik het na ontvangs van die memorandum onderneem om aandag aan die inwoners se griewe te gee.
Chantel Edwards-Klose, woordvoerder van die George-munisipaliteit, het in antwoord op vrae van die George Herald gesê terugvoer is reeds oor die brandweersituasie gegee en terugvoer sal vandag (Donderdag) oor die diensleweringaspekte gegee word. Die munisipaliteit kan nie enige inligting oor dit verskaf nie.
Neil Hanse, woordvoerder van die ontevrede inwoners, het Woensdag bevestig dat terugvoer oor die brandweersituasie ontvang is. Volgens hom is die munisipaliteit se argument dat die finansiële boekjaar gesluit het en daar nie hiervoor begroot is nie.
Die inwoners is daarvan bewus dat die munisipaliteit teen Donderdag sal reageer.
Hy het gesê inwoners is intussen ook ongelukkig oor hoe sekere lede van die wit gemeenskap beledigend na van die mense verwys het wat aan die protesoptogte deelgeneem het. "Ons vra mense om te verstaan hoekom ons 'n protes begin het. Dit is nie net die bruin / swart gemeenskappe wat daaruit voordeel sal trek nie, maar die hele gemeenskap van Uniondale.
"Ons wil nie geweld hê nie. Ons wil 'n vreedsame oplossing saam met die munisipaliteit en ander rolspelers vind."
Volgens hom het inwoners betoog teen swak dienslewering omdat die burgemeester nie na oproepe van die gemeenskap geluister het om hulle te kom toespreek en na hul griewe te luister nie.
• Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die situasie is terug na normaal. Die polisieondersoek duur voort en niemand is in aanhouding nie. Drie protesgangers het reeds in die hof verskyn. Hulle is op eie verantwoordelikheid vrygelaat en sal eersdaags weer in die hof verskyn - twee op aanklag van openbare geweldpleging en die ander een op aanklag van die hindering van die polisie in die uitvoering van hul pligte.
• Die twee boere van die Uniondale-omgewing, Marthinus Loock en Nico Gerber, wat verlede Woensdagaand op hulle plase aangekeer is verskyn weer Maandag in die hof. Hulle het Donderdagmiddag vlugtig in die George-landdroshof verskyn. Die klagtes spruit voort uit twee beweerde skietvoorvalle tydens die betogings verlede Maandag.
Adv. Gert van Niekerk, wat Loock verteenwoordig, het gesê die mans het op 'n aanklag van die beweerde afvuur van 'n vuurwapen in 'n munisipale gebied verskyn. Hulle is nie gevra om te pleit nie en is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'