Update
UNIONDALE NUUS - Ontevrede inwoners van Uniondale sal Sondag besluit oor die pad vorentoe. 'n Gemeenskapsvergadering word dan gehou waartydens die terugvoering van die George-munisipaliteit oor hul griewe bespreek sal word.
Onrus het op 15 Julie op die dorp uitgebreek. Dit het gevolg na een persoon in 'n brand in 'n informele nedersetting gesterf het. Grootskaalse geweld oor dienslewering het daarna uitgebreek en verskeie mense is in hegtenis geneem.
Inwoners het daarna sekere eise gestel wat in twee memorandums vervat is. Dit is aan George-burgemeester, Melvin Naik, oorhandig.
Neil Heinse, woordvoerder van die ontevrede inwoners, het Woensdag aan die George Herald gesê die terugvoering wat van Naik ontvang is, sal Sondag bespreek word.
Hy kan nie die vergadering vooruitloop nie. "Ons weet nie wat die inwoners wil hê nie." Hy het bygevoeg: "Sover is dinge rustig." Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die afgelope tyd is geen voorvalle van geweld aangemeld nie.
Die afgelope Maandag het inwoners 'n protesoptog gehou en dit het vreedsaam afgeloop. Dit was toe twee mans, Marthinus Loock en Nico Gerber, in die hof verskyn het oor die beweerde afvuur van 'n vuurwapen in 'n munisipale gebied.
Tydens die optog is twee petisies ook aan die polisie en die departement van justisie oorhandig wat verband hou met onder meer dienslewering.
Loock en Gerber word onderskeidelik deur adv. Gert van Niekerk en Eckardt Brandt verteenwoordig.
Van Niekerk het bevestig dat hulle in die hof verskyn het. Hulle is nie gevra om te pleit nie. Loock se saak is tot 26 Augustus uitgestel en die saak teen Gerber tot 30 September. Hul borgtog van R1 000 elk, is verleng.
Die polisie se ondersoek duur voort.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo nuus'