Update
UNIONDALE NUUS - Die saak teen Nico Gerber, een van die mans wat daarvan beskuldig is dat hy na bewering 'n vuurwapen onwettig in 'n munisipale gebied op Uniondale afgevuur het, is van die rol geskrap. Gerber was klaarblyklik op pad dorp toe, toe hy midde in 'n protesbetoging tydens die onrus beland het.
Onrus het op 15 Julie op die dorp uitgebreek nadat een persoon in 'n brand in 'n informele nedersetting gesterf het.
Grootskaalse geweld oor dienslewering het daarna uitgebreek en verskeie mense is in hegtenis geneem.
Inwoners het daarna sekere eise gestel wat in twee memorandums vervat is en aan George-burgemeester, Melvin Naik, oorhandig is. Uniondale val onder die munisipale jurisdiksie van George.
Gerber en Loock
Gerber en Marthinus Loock, wat met 'n ander voorval verband hou, het onlangs weer in die hof verskyn. Gerber het by navraag aan die George Herald bevestig dat die saak geskrap is. Volgens hom het hy verlede Maandag, 30 September, weer in die hof verskyn.
Hy wou toe duidelikheid hê oor waarvoor hy aangekla word. Die polisie het aangedui dat die saak ondersoek word, maar die landdros het in 'n stadium aangedui daar is geen verdere gronde vir die saak nie en dit toe geskrap.
"Dit was 'n traumatiese ervaring vir my en my gesin. Ek is bly dit is op dié punt. In die stadium gaan ek nie verdere kommentaar lewer nie," het Gerber gesê.
Adv. Gert van Niekerk wat namens Loock optree, het gesê die saak teen Loock is tot 28 Oktober uitgestel. Volgens hom het die polisie aangedui dat hulle steeds besig is met die ondersoek. Dit sal die derde keer wees dat Loock in die hof verskyn. "As die staat nie gereed is nie, gaan ek ook vra dat die saak geskrap word."
Ontevrede inwoners
Neil Heinse, woordvoerder van die ontevrede inwoners, het Dinsdag gesê George-munisipaliteit is besig om stadig die eise wat hulle gestel het, aan te spreek. "Dit gebeur stadig, maar gebeur darem."
Volgens hom is daar nog ongelukkigheid oor die bou van huise, die plaveisel van sekere strate, die situasie oor toilette en die opknapping van ou geboue.
"Ons gee alles 'n kans en kyk wat gebeur." Hy het bygevoeg: "Werkskepping onder die jeug bly 'n uitdaging."
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo nuus'