GEORGE NUUS - Gemeenskapsleiers en inwoners van Pacaltsdorp is teleurgesteld gelaat ná verskeie belangrike rolspelers nie gister, Donderdag 2 Maart, vir 'n noodvergadering opgedaag het nie.
Die vergadering, gelei deur Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se voorsitter, Charly Daman, het onder andere gehandel oor die veiligheid van die inwoners, toenemende misdaad en geweld, asook gebrek aan sigbare polisiëring in dié gebied.
Die vergadering volg ná 'n Go George-bus Woensdag met twee petrolbomme bestook is. Elf mense het tydens die voorval erge brandwonde opgedoen en is gehospitaliseer. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
In Januarie vanjaar was daar gewelddadige aanvalle onder hoërskoolleerders, in Desember verlede jaar is die liggame van twee jong mans naby die Schaapkoprivier gevind en vroeër vanjaar 'n derde een in dieselfde gebied. In Desember is daar 'n man deur 'n groep in Andersonville oorrompel en doodgeskiet en in 'n meer onlangse voorval was daar talle huise in Rosedale gedurende beurtkrag deur vandale getakel.
"Ons voel werklik Pacaltsdorp suig aan die agterspeen. Ons geld is goed genoeg, maar ons veiligheid is nie 'n prioriteit vir owerhede nie," het Daman gesê.
‘n Versoekskrif is tydens die vergadering aan lt.kol. Lionel Kennedy van polisie se Tuinroete-distrikskantoor oorhandig.
In die dokument word onder andere die tekort aan polisiebeamptes in Pacaltsdorp, die veiligheid van hul lede by die stasie tydens beurtkrag en die veiligheid van die gemeenskap, aangeraak.
“Ons sal beslis binnekort ‘n opvolgvergadering organiseer. Ons is teleurgesteld dat sommige van die belangrike rolspelers nie vir die vergadering opgedaag het nie. Dit voel so asof die gemeenskap se versoeke en klagtes op dowe ore val en in die tussentyd moet ons gebuk gaan onder toenemende misdaad en geweld. Dit kan eenvoudig nie meer so aangaan nie. Daar moet nóú ingegryp word voor dit te laat is,” sê Daman.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'