Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sy was maar dertien jaar oud toe Hanrie Wildeman (36) of Lollie, soos hulle haar noem, met die gereg gebots het. Lollie het haar tienerjare in Huis Outeniqua in Parkdene deurgebring, in dieselfde woonbuurt waar haar ouers woon.
"Ons het dorp toe gekom en stoute goedjies (steel) gedoen. Ek en my maats het ook daai tyd gemompel (gom gesnuif). My ma het my vir my eie veiligheid weggestuur sodat ek daar kan skoolloop. Ek het haar deur my lewe diep teleurgestel."
Vandaar is Lollie na Wellington, na 'n verbeteringskool. Na haar skoolloopbaan het Lollie weer met die gereg gebots en sy het sewe jaar tronkstraf in Brandvlei, Worcester, uitgedien. Gedurende die tydperk sedert Lollie skool verlaat het, het sy sowat 10 jaar op straat, in George, deurgebring.
"Dis nie nodig om crime te doen om op straat te oorleef nie," het sy gesê. "Ek het drome, ek wil nog my ouers trots maak. Hulle verdien dit."
Kyk 'n video hieronder.
Lollie se droom is om klere en ander produkte te ontwerp. Hierdie vaardigheid het sy in Worcester geleer. "Ek kan nie die tekeninge maak nie, maar as ek lap het weet ek wat om te doen. Ek sien dit in my kop," het sy gesê. Sy het ook 'n begeerte om jongmense as motiveringspreker te inspireer.
Sy slaap op 'n matjie wat sy ronddra, en stoot 'n trollie met al haar goedjies in. Snags slaap sy op straat, daar waar sy nie maklik sigbaar is nie.
"Ek weet dis gevaarlik, maar dis maar hoe dit is," het sy gesê.
Lollie raak emosioneel wanneer sy oor haar lewe gesels. Daar het al slegte goed gebeur, maar sy wil nie daaroor praat nie. "Dit maak te seer," het sy gesê.
Haar boodskap aan jongmense is om weg te bly van dwelms. Ver weg. Haar swakpunt in die lewe is nie werklik dwelms en prostitusie nie, alhoewel sy al met beide skouers geskuur het.
"Dis die stoute goedjies wat my lok," het sy gesê. "Dit doen ek op my eie, want ek wil nie ander betrek nie. Maar ek het dit nou agter my gesit, ek het daai goed gelos. Ek kyk nou vorentoe. Ek draai nie 'n lap om 'n gesonde vinger nie. Ek sê straight uit wat ek doen."
Lees volgende week in die George Herald oor 'n jong man, Vince van Mosselbaai, wat die afgelope 10 jaar in George se strate leef. Hy kom uit 'n goeie huis. Hy het eens drome gehad, maar tik het sy lewe oorgeneem.
Lees verwante artikels: