Update
GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-polisie vra dat mense met inligting oor die beweerde ontvoering wat gister (Donderdag, 8 Maart) naby Dellvillepark Primêr plaasgevind het, na vore te kom.
Wie die kinders is wat vermoedelik ontvoer is, is steeds onbekend, en geen ouer het tot en met vanoggend hul kind/kinders as vermis aangemeld nie.
Paniek is gistermiddag onder ouers gesaai nadat gerugte oor die ontvoering vlam gevat het.
Ouers het hulle kinders by die onderskeie skole gaan haal en vanoggend was die vrees steeds sigbaar met baie kinders wat nie skool toe is nie.
Die George Herald was gisteraand saam met die polisie toe inligting oor die beweerde ontvoering opgevolg is.
Verskeie persone is besoek en uitgevra of hulle enigiets gesien het.
‘n Vergadering is ook by die gemeenskapsaal in Rosedale gehou, waar tientalle ouers bymekaar gekom het om vas te stel of enigiemand weet van kinders wat die middag nie by hul huise opgedaag het nie. Inligting wat daar bekom is, is opgevolg, maar het niks opgelewer nie.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het vanoggend gesê hulle volg inligting op wat hulle kry, maar dat dit nog niks opgelewer het nie.
“Geen substantiewe bewyse, wat dui op 'n ontvoering, is nog gekry nie en beskou ons dit as vals gerugte.
"Dis soos om in die donker na iets te soek. Ons het nie name van die vermiste kinders nie en geen ouers het hulle kinders as vermis aangegee nie.
"Geen saak is nog geopen nie weens onvoldoende inligting, maar ons volg leidrade op soos ons dit ontvang."
Enigiemand met inligting word gevra om die Pacaltsdorp-polisie te skakel by 044 803 9100.
Lees 'n vorige artikel: Seun na bewering ontvoer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'