GEORGE NUUS - Ongelisensieerde vuurwapens is volgens ingeligte bronne só algemeen in Thembalethu se misdaadwêreld dat een bron dit vergelyk met messe, maklik bekombaar en van hand tot hand oorgedra.
Gesprekke met verskeie ingeligte bronne oor die omvang van ongelisensieerde vuurwapens in George dui daarop dat die probleem diep gewortel is en dat ’n toegewyde taakspan nodig mag wees om dit doeltreffend aan te spreek.
Die omvang van die probleem word ook weerspieël in die jongste beskikbare plaaslike syfers. In Thembalethu het die aantal vuurwapenverwante moorde wat in die tweede kwartaal (April tot Junie) van 2026 aangeteken is, van een in 2025 tot sewe in dieselfde tydperk van 2026 gestyg - ’n toename van ses.
In George het die syfer van drie na twee gedaal, terwyl Conville van vier na een en Pacaltsdorp van twee na een gedaal het. In die Wes-Kaap het die syfer van 821 na 792 gedaal. Die Tuinroete het in albei tydperke 29 aangeteken.
Volgens beskikbare nasionale syfers was ongelisensieerde vuurwapens in die 2025/26-boekjaar in meer as 99% van alle moorde waarin vuurwapens in Suid-Afrika gebruik is, betrokke.
Die kwessie het ook nuwe dringendheid gekry ná die onlangse moorde in Knysna en die skietdood van ’n Kaapse polisieman verlede week tydens ’n operasie in verband met die ondersoek na die moord op die voormalige Knysna-burgemeester.
In die George-polisiëringsgebied blyk Thembalethu een van die gebiede te wees waar die probleem die sterkste na vore kom, veral gegewe die aantal moorde wat daar voorkom en die feit dat baie daarvan met vuurwapens verband hou.
Een bron beweer dat dit moontlik is om in Thembalethu ’n vuurwapen vir ’n dag te huur.
“Hier kan jy selfs ’n vuurwapen huur teen ’n tarief. Sowat twee jaar gelede was dit tussen R750 en R1 000 per dag. Jy betaal die tarief vir ’n dag of langer, gebruik dit waarvoor jy dit ook al gehuur het en besorg dit terug. No questions asked.”
’n Ander bron sê die meeste van die vuurwapens wat hier in omloop is, kom uit die Oos- en Wes-Kaap. Die vuurwapens vind uiteindelik hul weg na ander dorpe nadat dit ’n aantal keer in dieselfde gebied gebruik is.
“Dis selde dat die polisie op misdaadtonele onwettige vuurwapens vind. Daar is wel patrone wat gevind word wat hulle vir ballistiese toetse stuur om te kyk of hulle met vuurwapens gekoppel kan word. Die wag vir uitslae is egter baie lank en soms word sake in die hof teruggetrek vanweë dié tydsverloop.”
In die groter George-gebied is daar volgens die bronne ook talle vuurwapens wat ná ’n erflating sonder die vereiste lisensie in iemand se besit bly.
“Mense erf die wapens en hou dit in ’n kluis in hul huis. Hulle het nie ’n lisensie daarvoor nie.”
Hierdie vuurwapens word volgens die bron in baie gevalle tydens huisbrake gesteel en beland sodoende in die hande van misdadigers, wat dit vir ander misdade, waaronder roof en moord, kan gebruik.
“Jy kry ouens wat met dwelms handel, veral in die Pacaltsdorp-, Blanco- en Conville-areas, wat ook onwettige vuurwapens besit, maar meeste van hulle gebruik dit as afskrikmiddel. Daar was egter al gevalle waar mense doodgeskiet is in die areas.”
Die gebruik van vuurwapens deur jong mense wek ook kommer.
Op ’n vraag oor hoe die polisie die strate en woonbuurte van onwettige vuurwapens gaan skoonkry, meen al die bronne met wie George Herald gepraat het, dat taakspanne wat spesifiek op die probleem fokus, nodig is.
“Meer sukes sal behaal word met dié benadering.”
‘Jy kan nie eens meer oor die brug stap nie’
’n Oud inwoner van Thembalethu sê daar is ’n beduidende verandering in die gebied, waar inwoners voorheen vrylik kon rondbeweeg.
Volgens die inwoner is daar ’n toename in onwettige vuurwapens en skietvoorvalle. Inwoners kon voorheen van Lawaaikamp na Thembalethu stap, maar dit is volgens hom nie meer veilig om ná 19:00 daarheen te stap nie.
“Jy kan nie eens meer oor die brug stap nie,” het hy gesê.
Volgens die inwoner hou van die probleme verband met dwelms, maar afpersing en in sommige gevalle politieke wedywering speel ook ’n rol.
Hy meen die polisie moet nouer met die gemeenskap en gemeenskapsleiers saamwerk. Volgens hom is die Thembalethu-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) baie effektief, maar moet die gemeenskap meer betrokke raak by die polisie en die GPF.
VF Plus verwelkom provinsiale misdaadkomitee
Die VF Plus sê die Wes-Kaapse parlement se besluit om ’n ad hoc-komitee in te stel om misdaadpatrone en -tendense in die provinsie te ondersoek, is ’n stap in die regte rigting.
Volgens VF Plus-LPW Grant Marais volg die besluit op vrae wat die party aan premier Alan Winde gestel het oor sy belofte om polisiebevoegdhede na die Wes-Kaap af te wentel. Winde het volgens die VF Plus aangedui dat ’n nuwe polisiëringsmodel oorweeg word.
Hoewel die mosie vir die komitee nie spesifiek na die devolusie van polisiebevoegdhede verwys nie, sê Marais die komitee se bevindinge kan belangrike bewyse lewer van waar die huidige stelsel tekortskiet en watter bykomende magte, hulpbronne en funksies die provinsie nodig het om geweldsmisdaad meer doeltreffend te bekamp.
Die VF Plus sê dit is ook bemoedig deur die breë steun vir die aanbevelings wat tydens die sitting uitgespreek is.
“Die stryd teen geweldsmisdaad moet groter wees as partypolitiek,” sê Marais. “Waar daar gemeenskaplike grond is, moet partye saamstaan om die veiligheid van gemeenskappe te beskerm.”
Ballistiese uitslae steeds ’n vraag
George Herald het die polisie ook genader vir syfers oor die omvang van die probleem in die George-polisiëringsgebied. Die navrae het gefokus op hoeveel ongelisensieerde vuurwapens in 2024, 2025 en 2026 gekonfiskeer is, hoeveel van dié wapens deur ballistiese toetse aan ander misdade gekoppel kon word, asook wat die gemiddelde wagtyd vir ballistiese uitslae is.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Chris Spies, het George Herald na die polisie se amptelike webwerf se misdaadstatistiek verwys.
Die statistieke wat op die polisie se webwerf beskikbaar is, bevat misdaadsyfers volgens kategorie en polisiëringsgebied, maar beantwoord nie enige van hierdie vrae direk nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’