GEORGE NUUS - Nuwe hoop het opgevlam vir die behandeling van die stompkopkewer en sy simbotiese swam wat al sedert verlede jaar in Maart groot verwoesting onder bome in George saai.
'n Stambespuitingsmiddel, PSHB Fungicide is nou amptelik by DEFF (voorheen DAFF, Agriculture, forestry & fisheries) geregistreer. Dit is deur dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukenner, bevestig.
Die mees onlangse taksonomie is dat die kewer 'n kompleks van verbasterde spesies is, wat as die Euwallacea fornicatus-kuroshio-whitfordiodendrus-fornicatior kompleks bekendstaan. Dit is algemeen bekend dat dit nie net in George voorkom nie, maar ook ander dele van die land.
Steenkamp het aan die George Herald gesê daar is twee wyses om bome te behandel. Sistemiese metode (langwerkende boom inspuiting met 'n insek en swamdoder) en stambespuiting. Die twee metodes kan saam gebruik word vir maksimum effektiwiteit, maar gedurende die winter is die behandeling beperk tot oppervlakte bespuiting waar die PSHB Fingicide gebruik kan word saam met 'n sistemiese swamdoder en kontak insekdoder.
Die vervaardiger van die middel vir stambespuiting, Pan African Farms het laat verlede jaar aansoek gedoen vir registrasie. Registrasie is 'n lang proses en sekere kliniese stawings moes onder meer voorgelê word.
Tot dusver is die aanspuitmiddel gebruik vir die risiko van die boomeienaar. Dit is sedert Januarie gebruik en die visuele resultate was baie goed. Hy het vertroue in die middel en glo dit behoort die gewenste resultate tot gevolg te hê.
Volgens hom is die algemene onkunde oor die aangeleentheid kommerwekkend.
Die nuwe seisoen is voor die deur en binne die volgende twee maande sal daar eers werklik duidelikheid wees wat gebeur het in die winter. So byvoorbeeld sal die resultate van die sitemiese metode sigbaar wees.
Sy advies in die stadium is om nie paniekerig te raak nie. As mense vermoed hul bome is besmet, met hulle 'n kundige betrek en moet die dooie takke afgesaag word. Dit moet eers behandel word (bespuit met 'n kontak insekdoder soos Cipemethrin) voordat dit na 'n stortingsterrein vervoer word. Sodoende kan gekeer word dat die kewer verder versprei.
Steenkamp het gesê dit is in die stadium duidelik dat dit steeds 'n groot probleem in George is. Dit kom oor die hele gebied voor en veral Glenwood, Heatherpark en Heatherlands word die ergste geraak.
Enigiemand wat wil vasstel watter soort bome geraak word, kan die Instituut vir bosbou en landboutegnologie (Fabi) se webtuiste besoek.
Steenkamp en Braam du Preez, 'n bosboukonsultant, het verlede Vrydag samesprekinge gevoer met verteenwoordigers van die George-munisipaliteit.
Volgens Steenkamp is George-munisipaliteit baie positief oor die nuutste verwikkelinge soos die registrasie van middels teen die boorder-swam. Daar is ook ver gevorder ten opsigte van die stortingsterrein waar 'n aankondiging eersdaags verwag kan word.
Voorts het die munisipaliteit onderneem om inligting oor die boorders te versprei deur pamflette in te sluit by munisipale korrespondensie.
Die kewer se huidige geskiedenis in George
Johanna Vermeulen, 'n inwoner van George, het reeds meer as twee jaar gelede gesien daar is fout met bome in die gebied. Sy het onder meer in 2018 Braam du Preez, 'n bosboukonsultant, gekontak. Du Preez het die bal aan die rol gesit. Hy het in Februarie 2018 monsters van die bome na Pretoria geneem.
Tydens sy besoek het hy dit met kundiges by die instituut vir bosbou en landboutegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria bespreek. Prof. Wilhelm de Beer van Fabi het later George self besoek en ook op Knysna monsters geneem. Hy en sy span het vasgestel dat die stompkopkewer en sy simbiotiese swam beslis die skade veroorsaak.
Lees 'n verwante artikel: Munisipaliteit gee aandag aan kewer en swam
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'