GEORGE NUUS - 'n Munisipale stortingsterrein vir hout wat deur die stompkopkewer en sy simbotiese swam besmet is, sal waarskynlik voor einde Augustus gevestig word. Dit blyk uit inligting wat deur Athane Scholtz van die George-munisipaliteit se kommunkasie-afdeling beskikbaar gestel is.
Die kewer en sy swam saai al sedert verlede jaar Maart groot verwoesting onder bome in onder meer George.
In antwoord op vrae van die George Herald het die George-munisipaliteit aangedui die terrein moet nog gelisensieer word en dit sal waarskynlik voor Augustus plaasvind.
Uit die inligting is dit nie duidelik waar die terrein sal wees nie. Huiseienaars, personeel van die NMU en die munisipaliteit "oorweeg" in die stadium wel 'n terrein waar besmette materiaal gestort en vernietig kan word.
Luidens Scholtz is die mees onlangse taksonomie dat die kewer 'n kompleks van verbasterde spesies is, wat as die Euwallacea fornicatus-kuroshio-whitfordiodendrus-fornicatior kompleks bekendstaan.
Die George-munisipaliteit hou bome in strate, parke en op munisipale grond dop en beveilig bome deur die oorhangende takke af te sny wanneer dit nodig word. Dooie bome word stuk-stuk opgesny en verwyder.
In George is munisipale bome wat geaffekteer word, meestal uitheems en/of oud, en word daarom in elk geval stelselmatig vervang soos wat hulle uitsterf.
Daar is tans geen bestrydingsmiddel wat in Suid-Afrika geregistreer is nie, maar dit is aangevra en duidelikheid word binnekort verwag. Die munisipaliteit sal volgens sy begroting bestryding op bome op munisipale grond toepas.
Baie gevalle is aangemeld op verskillende kanale wat verskillende rolspelers vir hierdie doel beskikbaar gemaak het.
Op die vraag oor die omvang van die probleem het Scholtz gesê die kewer kom regoor George en omliggende gebiede op die reproduktiewe boomspesies voor. Ander dorpe in die provinsie en land is nog besig om die omvang te bepaal en wag ook op definitiewe aanbevelings.
Die George-munisipaliteit is gasheer vir die IERM-kongres (Institute of Environmental and Recreation Management) wat van 4 to 6 September op Oubaai plaasvind. Die probleem, moontlike oplossings en samewerking sal in meer besonderhede daar bespreek word.
Die munisipaliteit het vanaf die eerste identifisering van die kewer in George in Maart 2018 saam met universiteite en ander rolspelers begin werk om die probleem op te los en samewerking gaan steeds voort. Onder meer is moontlike beheermiddels op munisipale bome getoets.
Die munisipaliteit herinner privaat eienaars om die bome op hulle erwe gereeld te ondersoek vir tekens van die kewer en te beveilig deur oorhangende takke af te sny indien daar besmetting is. Besmette plantmateriaal kan in die stadium by die munisipaliteit se tuinstortingsterrein op die R102 (lughawe-pad) afgelaai word. Dui net asseblief aan die personeel aan dat die hout besmet is en nie vir kompos of ‘mulching’ gebruik kan word nie.
Lees 'n verwante artikel: Stompkopkewer kan nasionale ramp wees
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'