Gallery
GEORGE NUUS - Na aanleiding van 'n berig oor 'n bielie van 'n gat op die sypaadjie in Meadestraat in die George Herald verlede week, het lesers nog foto's gestuur van areas wat hulle reeds 'n geruime tyd dwars in die krop steek.
Nog 'n "strik" vir voetgangers is in die stegie tussen Absa en Nedbank, in die omgewing van Yorkstraat, opgemerk. 'n Oranje kegel is voor die gat geplaas as waarskuwing, maar wee die persoon wat daar sou skeef trap!
Volgens Debra Sauer, assistent mediaskakelbeampte van George-munisipaliteit, behoort die mangat aan Nedbank en is dus 'n privaat mangat. "George-munisipaliteit sal dit intussen met Nedbank opneem sodat dit dadelik herstel kan word," het Sauer gesê.
In Hiberniastraat, voor die ingang van Golden Harvest se afleweringshek, is daar probleme met 'n waterpyp en stukkende plaveisel. Die situasie is glo onder George-munisipaliteit se aandag gebring, maar herstelwerk het nog nie plaasgevind nie.
Volgens Sauer sal die probleem by Golden Harvest vandeesweek nog aandag geniet. "'n Kanaal sal aangebring word om die water tot in die pad te herlei," het sy gesê.
Lang gras en bosse wat oor die treinspoor groei, bekruip die woning van 'n inwoner aan die punt van Fichatstraat. Volgens die inwoner is sy na Spoornet verwys om die probleem op te los.
"Ek kry eenvoudig geen antwoord van hulle nie, ek is radeloos," het sy gesê.
"Haweloses ontlas in die gras en ek vrees vir my veiligheid. Ek het op eie onkoste lemmetjiesdraad opgerig, maar die situasie grief my."
Volgens Sauer behoort die grond by die treinspoor aan Spoornet Spoorvrag. "Luidens verskeie wetgewing mag die munisipaliteit nie daar werk nie. Die munisipaliteit sal die versoek deurgee na die eienaar (Spoornet Spoorvrag)," het Sauer gesê.
Lees 'n verwante artikel: Gat 'n 'strik' vir voetgangers
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'