GEORGE NUUS - 'n Bielie van 'n gat op die sypaadjie in Meadestraat het 'n ma met 'n baba in haar arms, die knie laat buig. Die gat van sowat 1 m in deursnee, is in die middel van die sypaadjie, skuins oorkant die Harmonie-woonstelle vir bejaarde inwoners.
Volgens Louisa Matthee, wat in Januarie die onaangename ondervinding gehad het, het sy die gat onmiddellik by die George-munisipaliteit rapporteer. Sy is egter bekommerd omdat die gat na drie maande nog nie beveilig is nie.
"Dit is bedrieglik, want die gat is vol blare en bedek met 'n plastiekdeksel. Dit gee egter mee wanneer 'n mens daarop trap," het sy gesê. "Ek het letterlik met my een knie op die sypaadjie beland, in 'n poging om my agt maande oue baba te beskerm."
Matthee loop daagliks daarlangs met haar baba en seuntjie (4), om hulle by die kleuterskool te besorg. Sy het op daardie spesifieke dag haar oog op die vierjarige gehad, toe sy per ongeluk in die gat getrap het.
"Ek wil net graag ander waarsku en 'n lig op die probleem werp," het sy gesê.
"Ek ys as ek dink wat my baba, of iemand anders s'n, kan oorkom met so 'n val. Baie bejaardes maak ook van die sypaadjie gebruik."
'n Verbyganger wys die grootte van die gat, teenoor haar voet se grootte.
Debra Sauer, assistant munisipale skakelbeampte, het by navraag gesê beamptes van die direktoraat siviele ingenieursdienste het intussen ondersoek ingestel en die gat beveilig.
"Die mangat is nie deel van die munisipale diensleweringsinfrastruktuur nie," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'