Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Pacaltsdorp-dwelmondersteunings-groep het op Donderdag 26 April die amptelike opening van hul nasorgsentrum vir kinders met 'n gebedsdag by die Christian Faith Mission Church in Andersonville gehou.
Dis bygewoon deur ouers en kinders. Die ondersteuningsgroep is interkerklik en werk sedert Julie 2017 in die gemeenskap om dwelm- en alkohol-afhanklikes te help rehabiliteer deur middel van 'n beradings- en ondersteuningsdiens.
Die nasorgsentrum is 'n idee wat verlede jaar gebore is nadat hulle besef het dat iets ook gedoen moet word om te help voorkom dat kinders by dwelms of bendes betrokke raak.
Norman Farao, die sentrum-koördineerder, het gesê hulle het met daardie doel in Desember begin uitreik na kinders in hul omgewing en besef dat daar 'n groot behoefte vir 'n fasiliteit is waar kinders smiddae na skool onder toesig kan huiswerk doen en lees.
Met 'n borg, CIV Civils, wat na vore gekom het, was die groep in staat om die sentrum se deure op 12 April met 29 leerders te open. Dit het reeds gegroei tot 44. Jeugwerkers kon ook aangestel word om toesig te hou en opbouende aktiwiteite vir die kinders aan te bied.
Die sentrum word tans by maatskaplike dienste geregistreer. Farao het gesê uit hul interaksie met die kinders het hulle op kinders afgekom wat op nege jaar al met rook en alkohol geëksperimenteer het.
VIDEO: Nasorgsentrum open in Andersonville
Pastoor Aldon Meyer, geestelike leier van die ondersteuningsgroep, het gesê 'n gemeenskap wat nie sy kinders teen dwelms en alkohol beskerm nie, faal sy kinders.
"Die groep is 'n baken van hoop in 'n gemeenskap wat verval as gevolg van dwelmmisbruik."
Hy het die voorbeeld gebruik van 'n 13-jarige wat verslaaf is aan Mandrax, tik, buttons (Mandrax en dagga gekombineer) en heroïen wie se ma by die ondersteuningsgroep kom hulp vra het.
"Niemand is bereid om haar te help nie, maar ons gaan uitreik na haar. Ons het in September verlede jaar 'n tweede ondersteuningsgroep in Mosselbaai begin en wil graag nog uitbrei, maar ons het die betrokkenheid van ons gemeenskap nodig. Almal moet saamstaan teen dwelms en die bendekultuur."
Vrywilligers of donateurs wat graag wil betrokke raak by die sentrum, kan vir Norman Farao bel by 079 800 4818.
Kinders van die nasorgsentrum het harte gesteel met hul optrede by die opening. By die kinders is die betrokkenes by die sentrum, van links: Carol-Ann Baxter (jeugwerker), Norman Farao (sentrumkoördineerder), Mabel Meyer, apostel Frans Lukas (Christian Faith Mission Church), pastoor Aldon Meyer (Pacaltsdorp-dwelmondersteuningsgroep), Behieha Toefa (jeugwerker, regs agter), Alida Lukas (kok, sittend) en Martiza Lawens (onderwyser by die sentrum).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’