GEORGE NUUS - Die kliëntediensbeampte van 'n munisipale areakantoor in New Dawn Park het suikerwater nodig gehad nadat 'n groep mense haar Maandagoggend fisies uit die pos wou verwyder.
Volgens 'n ooggetuie, Gertruida Fourie, is die meesterbrein van dié inisiatief 'n vrou van Andersonville, 'n ou moeilikheidmaker. Sy het glo 'n groep mense om hulp genader om die kliëntediensbeampte, Karin Sampson, uit haar stoel te lig. "Die klomp - so 'n bakkie vol - het hier opgedaag, maar gelukkig was die sekuriteit gereed vir hulle," het Fourie gesê.
"Ons het geen idee hoekom ** dié dinge wil doen nie."
Volgens Joanie Visagie-Jantjies, 'n gemeenskapswerker, het sommige inwoners van die bose plan gehoor en seker gemaak die sekuriteitsbeamptes dra daarvan kennis. Volgens Fourie het hulle die "aanvallers" goed afgeweer.
Die George Herald is tydens 'n besoek aan die perseel meegedeel dat Sampson in 'n toestand van skok verkeer en erg getraumatiseer is.
Pieter Noble, kliëntediensbestuurder van George-munisipaliteit, wou nie oor die voorval uitbrei nie.
Pogings om Sampson, sowel as die aanhitser, vir kommentaar te bereik het misluk.
Die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê dit was aanvanklik 'n vereiste dat kandidate vir die pos in New Dawn Park woon.
"Die kandidaat wat vir die NDP-kantoor op die kortlys was, het egter nie aan die bevoegdheidsvereistes voldoen nie, en die pos as sodanig is deur 'n kandidaat gevul wat nie noodwendig in NDP woon nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'