Update
GEORGE NUUS - Die beskuldigde, Chad Windvogel (24), wat teregstaan op die moord van 'n platejoggie van Rosemoor, Linden Sysaar (27), is Dinsdag 28 Augustus op borgtog van R5 000 met streng voorwaardes vrygelaat.
Ontstoke familie- en gemeenskaps-lede van Rosemoor het reeds vroeg Dinsdagoggend voor die hof saamgedrom om hul misnoeë teen Windvogel se borgtogaansoek uit te spreek.
Ten tyde van sy borgtogaansoek was die hof stampvol.
Sysaar is op Sondag 11 Augustus in O'Connellstraat gesteek.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, was polisiebeamptes besig om in dié straat te patrolleer toe hulle deur 'n inwoner voorgekeer is wat hulle van die voorval vertel het.
Met hul aankoms op die toneel het hulle 'n groep mense gevind wat besig was om die slagoffer te dra.
Sysaar is gehospitaliseer, maar het die volgende oggend aan sy beserings beswyk. Windvogel is op Dinsdag
13 Augustus in hegtenis geneem en sal weer op Donderdag 26 September in die hof verskyn.
Familielede en ondersteuners van Sysaar was hoogs ontsteld na Windvogel se vrylating op borgtog, en dit blyk dat die publiek nie altyd die doel van borgtog verstaan nie.
Linden Sysaar
Wat is 'n borgtogaansoek?
Borgtog is nie 'n skuldigbevinding of 'n vonnis nie.
Die betaalbare bedrag vir borgtog dui ook nie op die skuld of onskuld van 'n beskuldigde nie.
Volgens 'n plaaslike advokaat, Louise Luterek, is dit belangrik om te onthou dat 'n beskuldigde nie skuldig is totdat die hof hom of haar skuldig bevind het nie.
Die basiese beginsel onderliggend aan die wet op borgtog is dat 'n beskuldigde geregtig is op borgtog waar die belange van geregtigheid dit toelaat.
Wetlik kan daar nie aanvaar word dat iemand skuldig is bloot omdat hulle in hegtenis geneem is nie. Die beskuldigde kan 'n borgtogaansoek voor die hof bring om vrygelaat te word op sekere gronde, bepalings en voorwaardes, soos die hof mag oplê.
Ingevolge ons land se grondwet het alle mense die reg om vry te wees en die reg op 'n regverdige verhoor.
Lees vorige artikels:
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’