Update
GEORGE NUUS - Plakkers van Seaview moet nog 'n maand wag voor hulle hul lot hoor. Die saak teen dié groep inwoners, wat onwettig plakkershutte op 'n stuk grond in Bluegumstraat opgerig het, is uitgestel tot 25 Junie omdat daar nie 'n landdros beskikbaar was om die saak aan te hoor nie.
Die area waar hulle tans woon staan in die volksmond bekend as Moeggeploeg.
Die groep het Dinsdag in die George-landdroshof verskyn nadat die George-munisipaliteit 'n uitsettingsaansoek ingevolge die bepalings van die Pie-wetgewing (die wet op die voorkoming van onwettige uitsetting en onregmatige besetting van grond) teen die plakkers gebring het.
Volgens die groep se regsverteenwoordiger, adv. Gert van Niekerk van die Vryheidsfront Plus, word so 'n aansoek vergesel met 'n stawende eedverklaring. Van Niekerk het namens die respondente 'n opponerende eedverklaring geliasseer.
"Die saak moet nou voor 'n landdros geargumenteer word deur die respondente en die applikant (George-munisipaliteit), waarna die landdros 'n beslissing sal maak," het Van Niekerk gesê.
"Ons wil graag sien dat die mense 'n regverdige verhoor kry en dat daar na hul omstandighede gekyk word."
Die groep bestaan uit 62 gesinne, waaronder 27 kinders onder die ouderdom van vier jaar. Al die gesinne is van George en het voorheen in ander inwoners se agterplase gewoon.
"Al wat hulle soek is 'n stukkie grond waarop hulle hul eie strukture kan bou. Hulle wag al jare vir huise," het Van Niekerk gesê.
Volgens Van Niekerk wag 'n rapsie meer as 19 000 agterplaasbewoners in George vir huise.
"As jy kyk na die tempo waarteen huise gebou word sal dit 74 jaar neem voor die huidige agterstand uitgewis is. Dit is 'n onuithoudbare situasie. Die nasionale minister van behuising het reeds erken dat hierdie hophuise nie werk nie, en dat een van die oplossings behoort te wees dat mense grond moet kry om hul plekkies self te bou," het hy gesê.
Plakkers van Seaview in Pacaltsdorp voor die George-landdroshof.
Lees vorige artikels hier:
- Minister vra naamlys
- Plakkers opponeer uitsettingsbevel
- Moeggeploegers staan uitsetting teen
- Nog protesaksie in Proteastraat
- Update: Protests in George
- Grondbesetters bid vir hulp van Bo
- Onderwysers het nié gevlug
- New Dawn Park nou rustig
- Bande brand weer in Proteastraat
- Seaview vat blaaskans na protesaksie vanoggend
- Illegal squatters block Beach Road
- Tyres set alight in Pacaltsdorp
- Polisie onttrek van toneel in Bluegumstraat
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'