Gallery
GEORGE NUUS - Met sy nuwe knie klim hy al trappe en dit gaan baie goed met hom. Trouens dit was nog nie eers nodig om pynpille te drink nie.
Dit is die herstelverhaal van Theo Bosman (74) wat in April, minder as twee maande gelede, 'n unieke knievervanging in die Mediclinic George gehad het. Hy het jare gelede sy knie in 'n motorfietsongeluk beseer.
Bosman, wat net 1,3 m in sy sokkies staan, is 'n Lorraine-dwergie. Dit is iemand wat baie kort in lengte is.
Dit was nie net sommer nog 'n knievervanging nie. Vir die eerste keer is só 'n vervanging by die hospitaal uitgevoer.
Oor 'n koppie koffie het hy en Linda, sy eggenoot aan die George Herald vertel hoe dit deesdae na die operasie gaan.
Sommer met die intrapslag het hy gesê: "Dit gaan 100%." En om te wys dit is nie net praatjies nie, het hy gaan wys hoe hy nou trappe klim. Een van die eerste dinge wat hy by die huis gedoen het na sy ontslag uit die hospitaal, was om trappe te klim. Hy was vier dae in die hospitaal en het net vir twee weke met krukke geloop.
Volgens hom is selfs die mediese personeel verbaas oor sy vinnige herstel.
Hy het benadruk dat die trappe in die huis deur Linda ontwerp is en dit is aangepas sodat hulle dit op hul oudag nog gemaklik kan gebruik. Dit is net 110 mm hoog.
Bosman is glad nie spyt dat hy deurgedruk het en vir die operasie gegaan het nie. Die ou knie het hom die laaste tyd begin opkeil. In 'n stadium verlede jaar het hy besluit hy kan nie meer so aangaan nie.
Nou saam met sy nuwe knie, het 'n nuwe lewe aangebreek. Hy ry nie meer motorfiets nie en hy mis dit baie. Hy hou hom steeds besig met houtwerk. Die egpaar se huis staan juis vol prag meubelstukke wat hy in die verlede self gemaak het. In die motorhuis nader 'n houtbankie wat hy maak, voltooiing.
Sy advies aan iemand in 'n soortgelyke situasie: "Doen dit en kry klaar." Die verligting na so 'n operasie is groot.
Hy het sy dank aan almal uitgespreek wat belanggestel het en betrokke was by die knievervanging.
Linda het gesê voor die operasie het Theo stadig gestap. Hy stap nog steeds stadig, maar dit gaan nou beter. Hy moet net versigtig wees dat hy nie skeeftrap nie.
Theo Bosman wys die bankie waarmee hy besig is. Foto's: Eugene Gunning
Die operasie is voorafgegaan deur deeglike voorbereiding en daar is selfs van kennis en hulp in Amerika gebruik gemaak. 'n Spesifieke prostese moes vir Bosman gemaak word. 'n Afdruk is van Bosman se knie geneem en 'n modelletjie is in Amerika gemaak.
Danksy dr. Hennie Bester, ortopediese chirurg van George en tesame met die hulp van Smith & Nephew se pasiënt-spesifieke Visionaire© tegnologie, kon dr. Bester die presiese grootte en plasing van die knieprostese vooraf bepaal sodat Bosman optimale behandeling kon ontvang.
Bosman kom oorspronklik van Lichtenburg in die Noordwes-provinsie. Later het hy en Linda na De Rust verhuis en toe uiteindelik na George.
Jare gelede was hy ook 'n geesdriftige motorfietsryer en in 'n ongeluk is sy regterbeen ernstig beseer. Hy het 100% herstel en 'n normale lewe begin lei.
Sowat ses maande gelede het die been egter begin pyn. Hy het dr. Bester gaan spreek, wat voorgestel het dat hy 'n knievervanging kry. Hy het ingestem.
Lees 'n vorige artikel: Unieke knievervangings-operasie in George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'