GEORGE NUUS - Toe nog 'n knievervanging vir 'n pasiënt in Mediclinic George uitgevoer is, was dit nie sommer net nog 'n operasie nie. Vir die eerste keer is só 'n vervanging by die hospitaal uitgevoer op iemand wat bekend staan as 'n Lorraine-dwergie. Dit is iemand wat baie kort in lengte is. Die gelukkige man wat die nuwe knie ontvang het, is Theo Bosman (74). Hy staan net 1,3 m in sy sokkies.
Die operasie is voorafgegaan deur deeglike voorbereiding en daar is selfs van kennis en hulp in Amerika gebruik gemaak. Danksy dr. Hennie Bester, ortopediese chirurg van George en tesame met die hulp van Smith & Nephew se pasiënt-spesifieke Visionaire© tegnologie, kon dr. Bester die presiese grootte en plasing van die knieprostese vooraf bepaal sodat die pasiënt optimale behandeling kon ontvang.
Bosman was reeds vroeg by die hospitaal. Hy is bygestaan deur sy eggenote, Linda. Hy het aan die George Herald vertel wat aanleiding gegee het dat hy 'n nuwe knie moet ontvang.
Bosman kom oorspronklik van Lichtenburg in die Noordwes-provinsie. Later het die Bosmans na De Rust verhuis en toe uiteindelik na George. Hy was voorheen in die dieselbedryf en het later afgetree.
Jare gelede was hy ook 'n geesdriftige motorfietsryer. In 1982 het hy op 'n naweek by sy suster in Johannesburg met sy motorfiets gaan kuier. 'n Voertuigbestuurder het 'n verkeerslig verontagsaam en hom gestamp. In die ongeluk is sy regterbeen ernstig beseer.
Vir 'n hele rukkie was hy buite aksie. Wonder bo wonder het hy 100% herstel en 'n normale lewe begin lei.
Dr. Hennie Bester, ortopediese chirurg wys op die regterbeen van Theo Bosman waar hy die knievervanging gaan doen. Die foto is kort voor die operasie geneem.
So ses maande gelede het die been begin pyn. Hy het dr. Bester gaan spreek, wat voorgestel het dat hy 'n knievervanging kry. Hy het ingestem.
Tydens die George Herald se besoek, kort voor die operasie, het dr. Bester opgedaag. Met 'n groot glimlag het hy vir Bosman gevra: "Is jy reg vir die geveg?"
Bester het vertel dis nie 'n moeilike operasie nie. Dis eintlik 'n standaard prosedure, maar uniek omrede 'n spesifieke prostese vir Bosman gemaak moes word. "Die gespartel is watter prostese gaan pas."
'n Afdruk is van Bosman se knie geneem en 'n modelletjie is in Amerika gemaak. Volgens hom sal Bosman ten volle herstel.
Dr. Hennie Bester, ortopediese chirurg wens Theo Bosman, ortopediese chirug sterkte toe kort voor die operasie. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'