Update
GEORGE NUUS - Hoërskool George het die naweek hul beste voet voorgesit met hul Kunste in die Kollig-funksie. Daar was Vrydag 'n gala-aand en Saterdag Jazz on the Lawn waar kunstenaars uit die Kaap opgetree het.
Volgens die skoolhoof, Morton van Rooyen, is die jaarlikse funksie baie belangrik vir die skool asook hul kunsdepartement.
Hy sê die funksie word gehou om geld in te samel sodat die departement weer die volgende groep talentvolle leerders kan voorberei. Die gala-aand het afgeskop met 'n dansproduksie Sing, Sing, Sing en die vokale ensemble het ook opgetree. 'n Paar items is gesny om die veiling van kunswerke in te pas voor die aand deur beurtkrag onderbreek is.
Die hoogtepunt van die naweek, die Jazz on the Lawn is nie so goed ondersteun soos wat die skool gehoop het nie.
"Ek wil egter vir ons personeel dankie sê dat hulle opgedaag het," sê Germaine Leonard, die skool se musiekonderwyser wie se maatskappy, GLM Produksies, die produksie op die planke gebring het.
Die dansleerders besig met hul produksie, Sing Sing Sing.
Sy maatskappy het ook die twee hoofkunstenaars uit Kaapstad geborg.
Norman Christians, die departementshoof, het Vrydagaand gesê hulle kry glad nie soos voorheen finansiële ondersteuning van die onderwysdepartement nie.
"Dis hoekom so 'n fondsinsameling so belangrik is. Ons is 'n fokusskool vir die kunste, maar kry nie die nodige ondersteuning om ons leerders meer geleenthede te bied nie. Christians sê dit beteken nie dat die talent of die onderrig afgewater is nie, inteendeel werk die leerders en die betrokke onderwysers elke jaar net harder.
Van Rooyen sê na voorlopige berekenings toon dit dat die fondse wat geïn is vanjaar verdubbel het in vergelyking met die vorige twee jaar. Dit is as gevolg van die bydraes van mense wat die funksie ondersteun het alhoewel hulle nie daar was nie. "Daar gaan 'n vergadering plaasvind waar besluite geneem sal word oor hoe ons hierdie funksie beter kan bemark."
Die skool hoop om volgende jaar meer ondersteuning te kry, veral van oudleerders asook die skoolgemeenskap.
Leonard en van sy musiek- en sangleerders.
Lees verwante artikels hieronder:
- Kunste in die kollig by Hoërskool George
- Jazz on the Lawn needs your support
- Kunste in die kollig by Hoërskool George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'