Update
GEORGE NUUS - Die man van Conville, Grant Robertson (35), wat daarvan aangekla is dat hy sy meisie, Rencia Jafta (27) van Parkdene in Julie 2019 aangerand, verkrag en vermoor het, sal op 16 Mei gevonnis word. Dit volg ná hy verlede Donderdag, 17 Maart, in die rondgaande hooggeregshof in George, skuldig bevind is op al die aanklagte teen hom.
Jafta het die noodlottige aand, Vrydag 12 Julie 2019, by Robertson in sy woning in Bisonsingel gekuier toe die voorval plaasgevind het.
Buiten die aanklag van moord, verkragting en aanranding met betrekking tot Jafta, is Robertson ook skuldig bevind op aanklag van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van die oortreding van 'n beskermingsbevel en twee van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Dié aanklagte spruit uit vorige voorvalle waarin sy vrou en 'n voormalige meisie betrokke was.
Robertson het dwarsdeur die verhoor skuld op al die aanklagte ontken en gesê die moord op Jafta was nie met opset nie.
Volgens hom het hulle albei die aand baie gedrink en saam geslaap. Sy het later die aand van die bed afgeval terwyl hulle omgang gehad en sy haar kop gekap het.
Hy het eers later besef dat sy dood is toe hy bloed op sy klere opmerk.
Hy het paniekbevange geraak, haar lyk met 'n duvet toegegooi en die huis verlaat om tik te gebruik. Haar liggaam is die daaropvolgende Sondag gevind ná haar pa, Ben Jafta, en lede van die Conville-polisie, Robertson se woning deursoek het.
Sy het drie kopwonde en verskeie beserings aan haar onderlyf gehad. Haar liggaam was ook reeds in 'n vroeë stadium van ontbinding.
Robertson is later dié dag in hegtenis geneem. Haar ouers het haar die vorige dag as vermis aangemeld. In haar slotbetoë het staatsadvokaat, Evadné Kortjé gesê Robertson het vir twee dae lank geweet dat Jafta dood was en nie die polisie, of enigiemand anders, in kennis gestel nie.
In stede daarvan het hy haar liggaam onder sy bed weggesteek en die volgende dag boodskappe vanaf haar foon aan familielede gestuur asof dit sy was. Tydens uitspraak het regter Deidré Kusevitsky gesê dat Robertson se getuienis teenstrydig was en dat sy weergawe van gebeure hoogs onwaarskynlik was en nie bo redelike twyfel bewys kon word nie, verál nie as gekyk word na die patologiese verslag nie.
Dié verslag toon drie kopwonde en erge beserings aan Jafta se onderlyf en privaat dele wat volgens die patoloog wat getuig het, nie per ongeluk veroorsaak is nie. Louise Luterek van Mosselbaai verteenwoordig Robertson, adv. Evadné Kortjé is vir die staat en die saak dien voor regter Deidré Kusevitsky.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'