Update
GEORGE NUUS - Die moordverhoor van Grant Robertson (35), wat verdink word dat hy sy meisie, Rencia Jafta (37) van Parkdene, in 2019 vermoor het, het op 18 Oktober in die rondgaande hooggeregshof in George begin.
Robertson is op 14 Julie 2019 in hegtenis geneem ná Jafta se liggaam onder 'n bed in haar opslaanhuis in Bisonsingel gevind is. Sy het 'n kopwond gehad en die vermoede bestaan dat sy met 'n stomp voorwerp aangerand is.
Conville-polisiestasie se bevelvoerder, kol. AB Kriga, het destyds gesê Jafta se pa het haar Saterdag 13 Julie as vermis aangemeld. "Haar liggaam is Sondagmiddag onder 'n bed deur lede van die gemeenskap wat die opslaanhut binnegedring het, gevind. Sy was in komberse toegedraai," sê Kriga.
Robertson het op 14 Julie daardie jaar vir sy borgtogaansoek verskyn, maar het gekies om nie 'n aansoek te bring nie.
LEES MEER: Verhoor wink vir kêrel na meisie se moord
Ná die staat hul saak gesluit het, het Robertson verlede week self agter die getuiebank ingeskuif waar die hof gehoor het dat Jafta se dood nie met opset was nie.
Volgens Robertson, wat by tye baie emosioneel geword het tydens sy getuienis, het hulle albei die aand baie gedrink en saam geslaap. Sy het later die aand van die bed afgeval, waar sy volgens hom die kopwond opgedoen het.
Hy het in daardie stadium nie besef sy is dood nie en aangeneem dat sy aan haar sykant langs die bed aan die slaap geraak het. Toe hy later agterkom dat Jafta dood is, het hy paniekbevange geraak en die huis verlaat om tik te gebruik.
Hy het erken dat hy in die verlede sy wettige vrou en voormalige meisie ook aangerand het, maar dat dit nie met opset was nie en slegs wanneer hy onder die invloed van dwelms was of hulle hom frustreer het.
Weens 'n gebrek aan tyd kon Robertson nie sy getuienis voltooi nie en die saak is tot 10 Januarie 2022 uitgestel.
Louise Luterek van Mosselbaai verteen-woordig vir Robertson, adv. Evadné Kortjé is vir die staat en die saak dien voor regter Deidre Kusevitsky.
Gemeenskapslede wat tydens Robertson se borgtogaansoek voor die hof betoog het. Foto: Kristy Kolberg REGS: Vir haar ouers is Jafta, 'n oudleerder aan Hoërskool Parkdene, se dood steeds 'n geweldige skok.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'