Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Renier van Greunen van Leeubekkiestraat, Denneoord, is ontevrede oor 'n selfoontoring wat tans op die perseel van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) opgerig word, digby die woonhuise reg oorkant die straat.
Van Greunen sê hy het nie vooraf kennis gekry nie. Die eerste keer wat hy daarvan bewus geword het, was toe konstruksie verlede Donderdag begin het. Volgens twee van sy bure, is hulle wel vooraf in kennis gestel.
Hy is bekommerd oor die gesondheidsrisiko's van die radiogolwe en elektromagnetiese velde van selfoontorings, wat 'n kontroversiële kwessie is. Hy wou weet of enige van die kerkraadslede so naby aan 'n selfoontoring sal bly. "Dis natuurlik 'n bron van inkomste. Ongelukkig is dit minder as 40 meter van my huis en slaapkamers af." Die toring gaan ook hulle uitsig belemmer.
"Die toring is so naby aan my huis dat ek voel die minste wat gedoen kan word, is om ons op 'n manier te kontak. Soos ek die ding nou sien, is daar niks wat ek daaraan kan doen nie. Ons sit met die probleem. Hy gaan altyd daar wees. 'n Mens moet maar sien hoe dit jou eiendomswaarde gaan beïnvloed."
Die kerk se saakgelastigde, Dawie Claassen, het by navraag gesê: "Niemand was bewus van die straling nie. Ons (die gemeente) is reg onder die toring en sal dus ook bestraal word. Ek sal verkies dat dit nie opgerig word nie, want ek is bang vir kanker."
Kyk 'n video hieronder:
Willem Mouton, voorsitter van die kerkraad, het gesê hulle is deur Atlas Tower, eienaar van die toring, genader om grond beskikbaar te maak. "Ons het 'n wettige kontrak en dit lees dat hulle goedkeuring by die munisipaliteit moet kry, wat hulle verkry het. Die kerkraad was nie bewus van die kontroversie rondom bestraling nie. Vir die beste geld in die wêreld kan ons nou niks daaraan doen nie. As die munisipaliteit dit goedkeur en al die studies is gedoen, hoekom sal ons nee sê?"
Konstruksie aan die toring het verlede week begin.
Dirko Loots van Warren Paterson Planning, aansoekers namens Atlas Tower, het gesê hulle rekords wys dat 'n geregistreerde brief wel op 8 Oktober verlede jaar aan die Van Greunens gestuur is. Hulle het 'n maand gehad om beswaar aan te teken.
"Wanneer briewe nie opgeëis word nie, kry ons dit terug en in hierdie geval het ons dit nie teruggekry nie."
Die aansoek is ook in die George Herald geadverteer.
George-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Trevor Botha, het gesê die beplanningsdepartement het bevestig dat 'n kennisgewing per geregistreerde pos aan Van Greunen gestuur is. Die posadres-besonderhede is met Van Greunen bevestig soos wat dit op die kennisgewingslys verskyn wat deur die poskantoor gestempel is.
Die departement het al die korrekte prosedures gevolg met die prosessering en goedkeuring van die aansoek. "Aangesien dit reeds gefinaliseer is, is die klaer se enigste opsie om die hof te nader om die besluit te hersien."
Een van die inwoners reg oorkant die kerk het hierdie nota op hulle voorhek geplak. Foto's: Alida de Beer
Lees 'n vorige artikel hier: Ontevredenheid oor selfoontoring
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'