GEORGE NUUS - Die gespreksreeks, Every vote counts, van Business Café wat die afgelope paar weke plaasgevind het in die aanloop tot die verkiesing, was 'n groot sukses en gaan voortgesit word.
Die gespreksreeks is gehou om aan sogenaamde kleiner politieke partye wat as koningmakers kan optree as geen party 'n volstrekte meerderheid behaal nie, 'n geleentheid te gee om hul saak te stel.
Dr. Dennis Farrell, stigter van Business Café en inisieerder van die gespreksreeks het Maandag 27 Mei gesê altesaam ses partye het daaraan deelgeneem. Hulle is die VF Plus, EFF, ACDP, Referendum Party, Hope for SA en die PA.
Volgens hom gaan die koningmakers waarskynlik 'n groot rol in die vorming van koalisies speel. Daar moet ook in gedagte gehou word dat oor twee jaar, in 2026, vind die plaaslike regeringsverkiesing plaas. Die koningmakers gaan waarskynlik 'n groter rol in daardie verkiesing speel.
Vogens Farrell het hy positiewe terugvoer oor die afgelope gespreksreeks ontvang. Op versoek van die mense wat dit bygewoon het en die onderskeie partye moet dit voortgaan.
Die plan is om in die toekoms ook ander partye te betrek. In daardie sessies sal dit gaan oor die aanspreeklikheid vir die mandaat wat die partye van kiesers ontvang het.
Die afgelope gespreksreeks was baie interaktief. Dit was ook nie konfronterend nie. Dit was nie 'n geleentheid vir partye om hul eie beul te blaas nie en dit was gerig om bloot inligting te verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’