GEORGE NUUS - Vervoermaand het hierdie jaar vroeg begin met Internasionale Motorvryedag wat met groot vrolikheid op 22 September in George gevier is.
Dié internasionale inisiatief is wyd ondersteun en aangemoedig deur prominente inwoners en die gemeenskap, met baie mense wat hul motors by die huis gelos het en met 'n GO GEORGE-bus werk toe gery het.
Oktober is reeds in 2005 as Nasionale Vervoermaand verklaar tydens die regering se vervoer-lekgotla, en word vanjaar gevier met die tema, "Ons vier 20 jaar van verskaffing van doeltreffende, betroubare en veilige vervoerdienste."
Vervoerinfrastruktuurprojekte wat die gebruik van openbare vervoer en die land se padveiligheidsinisiatiewe bevorder, sal die hele maand in die kollig wees.
GO GEORGE is een van die regering se vlagskipprojekte met sy belegging in die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk deel van die land se negepuntplan om ontwikkeling en werkskepping te stimuleer.
Openbare vervoer is noodsaaklik vir 'n groeiende ekonomie. 'n Groeiende ekonomie is op sy beurt weer noodsaaklik vir armoedeverligting en werkskepping.
Meer as 60 persent van Suid-Afrikaanse huishoudings spandeer 'n gemiddeld van 20 persent van hul maandelikse inkomste aan vervoer.
'n Pretkompetisie op GO GEORGE se Facebook-blad het inwoners genooi om selfies te pos van hul busrit op Motorvryedag. George se uitvoerende burgemeester, Malvin Naik, het sy belofte gestand gedoen en op 'n bus gehop in Blanco. Sy selfievaardighede kort dalk bietjie afronding, maar daar is niks verkeerd met ons Eerste Burger se toewyding en entoesiasme nie!
Die regering subsidieer openbare vervoer, GO GEORGE-kaartjies ingesluit, sodat niemand nodig het om 'n werksgeleentheid van die hand te wys omdat hulle nie kan bekostig om werk toe te ry nie.
Deur openbare vervoer te gebruik, word daar ook aan omgewingskwessies aandag gegee deurdat koolstofuitskeiding en brandstofverbruik, wat grootliks deur padvervoer veroorsaak word, verminder word.
Lee Gosper was die eerste passasier om sy selfie op GO GEORGE se Facebook-blad te pos op Motorvryedag.
Lees 'n vorige artikel: Hop on a bus this Friday!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'