Update
GEORGE NUUS - 'n Vakansieganger van Bloemfontein het net-net met sy lewe daarvan afgekom toe hy verlede week op die strand in Wilderness aangeval is met 'n mes.
André Du Toit, 'n senior advokaat en voormalige waarnemende direkteur van openbare vervolging in die Vrystaat, het op Vrydag 16 April saam met sy vrou in Wilderness aangekom om 'n heerlike wegbreek langs die Tuinroete te geniet.
Hul paradysvakansie het egter in 'n nagmerrie ontaard toe Du Toit op Vrydag 23 April op die strand in sy hals gesteek is.
"Dit was 'n lang, dun lem en dit het my long bereik. Die dokter sê ek is gelukkig om te leef. Nog 'n paar milimeter en dit was verby met my," het Du Toit Maandagoggend tydens 'n telefoniese onderhoud aan George Herald gesê.
Du Toit vertel hy het gestap langs die see toe die twee skurke hom op die strand tussen Wilderness en die Wilderness Beach Hotel oorrompel het.
"Dit was omstreeks 16:30 en die strand was stil. Ek was op pad terug na ons gastehuis toe ek twee mans sien wat na die water stap, maar ek het niks daarvan gedink nie. Ek het glad nie bedreig gevoel nie. Skielik het hulle in my rigting begin stap en voor ek weet was hulle op my. Die een het 'n vuurwapen en 'n mes by hom gehad - ek is nie seker of dit 'n regte vuurwapen was nie."
Die een verdagte het Du Toit se selfoon uit sy sak gegryp waarna die ander een hom in sy sleutelbeen-area naby sy nek, gesteek het. Daarna het hulle die hasepad gevat.
Du Toit het bebloed en beseer teruggestap na sy verblyf toe twee mense hom op die strand aantref en na veiligheid gebring het.
Hy is in die hospitaal opgeneem en kon Sondag 25 April weer huis toe gaan. Hy het Saterdag die voorval van sy siekbed aangemeld toe polisielede hom in die hospitaal besoek het en is vol lof vir die plaaslike polisie.
"Ek moet sê, julle polisiediens is puik. Ek was regtig besonder beïndruk dat hulle my in die hospitaal kom sien het."
Du Toit en sy vrou is gereelde vakansiegangers in die omgewing, en ten spyte van die voorval, beoog hulle om nog talle vakansies in die Tuinroete deur te bring. "Ons is baie lief vir die omgewing, maar ek voel net dit is belangrik dat mense bewus is van wat om hulle aangaan. Wees altyd op jou hoede," waarsku Du Toit. Die egpaar vertrek Vrydag, 30 April, terug na Bloemfontein.
Teen druktyd Dinsdagmiddag was nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie vra enigiemand met inligting rondom die voorval om na vore te kom of die George-speurdiens by 044 803 4715 of Stop Misdaad by 08600 10111, te skakel.
Police have opened a case of armed robbery after a man was stabbed and robbed on the Wilderness beach on Friday afternoon, 23 April. André du Toit, from Bloemfontein, who is holidaying here with his wife, was on his way back to their guest house after a walk on the beach when he was attacked by two men. He sustained a stab wound near his collarbone and his cellphone was stolen. Beachgoers came across the bleeding Du Toit and helped him back to his guest house. No arrests have been made.
Vorige artikel: Man attacked and robbed in Wilderness
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'