Palmer se prysgeld was R5 000 en wen die 'Vragmotor met ´n stang aan die sleepwa-kategorie' sedert 2008. In 2011 was hy ook die provinsiale wenner in die kategorie.
Hy sê die druk was baie groot, maar hy is bly almal het goed gedoen. "Ek het 'n gevoel gehad dat ek 'n goeie plek sou behaal, maar ek het nie gedink ek gaan wen nie," het Palmer gesê. Hy het ook die burgemeester bedank vir die prys en namens almal dankie gesê vir die kompetisie, waarna hulle elke jaar uitsien.
Gerrit Saayman van Blanco was tweede en Herchell Portland van Pacaltsdorp was derde.
Raadsheer Standers het die deelnemers geloof vir hul verbintenis tot padveiligheid. "Elke padsterfte is onnodig en dit is vir die stadsraad belangrik dat alle inwoners van George ons paaie en strate met veiligheid kan gebruik."
Mnr. Mario Giewelaar, Senior Bestuurder: Wetstoepassing en Verkeer, sê die kompetisie word nou jaarliks in Oktober, wat ook Ver-voermaand is, gehou. Die kompetisie word ook uitgebrei. "Almal wat behoorlike lisensies het, kan deelneem en staan 'n kans om lekker kontant los te slaan. Die kompetisie bestaan uit 'n voorritinspeksie, 'n hindernisbaan en 'n padtoets." Die kompetisie is by die Shadow Sentrum in Yorkstraat gehou.
Giewelaar sê die kompetisie help wetstoepassing, want deur middel van die kompetisie word 'n meer ekonomiese drywer gekweek, wat tot voordeel van die George-munisipaliteit asook maatskappye is, vir wie baie van die vragmotorbestuurders werk.
Hy sê die drywer leer om die voertuig te bestuur deur minder brandstof te gebruik en leer om foute te vermy soos onder meer met die ratkas en remstelsel. Hy sê die kompetisie help drywers ook met 'n voorkomende bestuurstyl om ongelukke te vermy.
Die wenners is voor van links: Gerrit Saayman (2de plek), Eugene Palmer (wenner) en Herchell Portland (3de plek). By hulle is: Melvin Naik (portefeuljeraadslid vir ingenieursdienste), Simphiwo James (waarnemende direkteur: gemeenskapsdienste), Mario Giewelaar (senior bestuurder: wetstoepassing en verkeer) en Rodney Volkwyn (senior superintendent: verkeer).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'