Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Elroy Gelant (34), wat George en Suid-Afrika se naam hoog gehou het in die maraton vir mans by die onlangse Olimpiese Spele in Japan, het nie sy oorspronklike tuisstad vergeet nie.
Elroy se vliegtuig het Saterdagoggend, 14 Augustus, kort voor 09:00 uit Johannesburg in George geland.
Die plan was dat hy eers later na George sou kom, maar danksy die gemeenskapsleier Virgill Gericke en mense van die gemeenskap het die besoek baie gouer plaasgevind.
'n Helde-ontvangs het by die lughawe op Elroy gewag waar talle inwoners van George en Pacaltsdorp hom ingewag het. Onder hulle was sy ouers, Steven en Yvette Gelant, George-burgemeester, Leon van Wyk, die wyksraadslid Cecil Noble, die visepresident van Atletiek SA, Shireen Noble, die visepresident van SWD-atletiek, Moses Gericke en George de Reuck, die man wat reeds vroeg sy atletiektalent raakgesien het.
Elroy Gelant saam met sy ouers, Yvette en Steven, op die George-lughawe.
In die aankomssaal is hy deur Van Wyk met 'n bos blomme verwelkom en gelukgewens met sy prestasie.
Elroy het gesê dis 'n hoendervleis gevoel om weer terug te wees. Een van die eerste dinge wat hy uit die vliegtuig gesien het was die berge en die see. Toe het hy geweet hy is weer tuis. Nadat hy sy ouers gegroet het, het hy onder luide applous na buite gestap.
Shireen Noble het gesê inwoners is baie trots op hom. Hy is 'n baie nederige en 'n gedissiplineerde mens. Daar is nog 'n jaar voor die wêreldatletiekkampioenskappe. Dit vind aanstaande jaar in Oregon, Amerika plaas en hy sal goed kan voorberei.
Kyk 'n video hieronder:
Sy het haar dank teenoor De Reuck uitgespreek wat Elroy destyds raakgesien het. Sy het die hoop uitgespreek dat 2022 'n baie beter jaar gaan wees.
Fotogalery: Elroy Gelant by lughawe ontvang
Moses Gericke het gesê Elroy verteenwoordig alle atlete in Suid-Afrika. Dis nie net die gemeenskap van Pacaltsdorp wat trots is op hom nie, maar ook gemeenskappe buite Suid-Afrika.
George-burgemeester Leon van Wyk (links), verwelkom Elroy Gelant (Saterdag 14 Augustus) op die lughawe. By hulle is Cecil Noble, lid van die George-stadsraad en Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika.
Ter afsluiting is Suid-Afrika se volkslied gesing en daarna het Elroy in 'n motoroptog vertrek om dankie te sê vir almal se ondersteuning.
Later het hy Pacaltsdorp besoek en 'n draai gaan maak by 'n landloopgeleentheid van SWD-atletiek. Elroy het 'n motiveringspraatjie gelewer. Dis waar alles destyds vir hom begin het.
Hy het Maandag aan George Herald gesê al die mense wat 'n groot rol in sy loopbaan gespeel het was by die lughawe teenwoordig. Sy besoek is vir hom 'n geleentheid om terug te loop na die plek waar alles begin het.
By die Olimpiese Spele het Elroy 34ste klaargemaak uit 'n totaal van 106 deelnemers. Hy was een van drie Suid-Afrikaners wat deelgeneem het en die enigste Suid-Afrikaner wat die wedloop voltooi het. Sy tyd was 2.16.43.
LEES MEER: Elroy sal weer huis toe kom
Vrigill Gericke (links) organiseerder van die geleentheid, Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika, Elroy Gelant, Justin Gericke, lid van die reëlingskomitee, Moses Gericke, visepresident van SWD-atletiek en Cecil Noble, lid van die George-stadsraad. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'