GEORGE ATLETIEK NUUS - Die talente van Elroy Gelant (34) is nie vir Pacaltsdorp en George verlore nie. Hy is van plan om hom later weer permanent in George te vestig, hier waar alles vir hom begin het.
Gelant woon en werk deesdae in Potchefstroom en het aan George Herald gesê dit is in die stadium nie moontlik om 'n tydskaal aan sy terugkeer te koppel nie. Die rede hoekom hy in Potchefstroom is, is sodat hy 'n fondasie kan hê. "Ek bou nou daaraan. As ek dit het, sal dit later help om te kan terugploeg."
Die afgelope paar jaar hou hy Suid-Afrika se naam hoog in internasionale atletiek en meer onlangs, die Olimpiese Spele in Japan.
Hy is van voorneme om aanstaande jaar aan die 10 000 m by die Wêreldatletiek-kampioenskappe in Oregon, Amerika deel te neem. Hy wil ook probeer om deel te neem aan die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk.
Elroy Saterdag by 'n landloopgeleentheid van SWD-atletiek in Pacaltsdorp.
Op die vraag hoe atlete gehelp moet word, het hy gesê hulle moet bygestaan word in terme van hul voorbereiding.
"Jy doen atletiek op 'n professionele basis. Jy bestee agt uur per dag aan atletiek. Jy gaan verteenwoordig jou land op die hoogste vlak in die buiteland. Dis soos 'n persoon wat vir die staat werk en Suid-Afrika in die buiteland gaan verteenwoordig. Jy moet bemagtig word."
Volgens Gelant moet prestasie ook beloon word. "Dit is net soos in 'n werksituasie waar iemand beloon word vir buitengewone prestasie. Sport in 'n professionele opset, is soos 'n gewone werk."
Volgens Elroy is die rede waarom Suid-Afrikaanse deelnemers aan byvoorbeeld die Olimpiese Spele nie altyd aan die verwagtinge voldoen nie, omdat daar nie hoë prestasie strukture in plek is soos byvoorbeeld by Springbokrugby nie.
Hy glo Suid-Afrikaanse deelnemers kan suksesvol wees. "Suid-Afrika is geseënd met talent, dit moet reg bestuur word met die korrekte prestasie strukture in plek."
Moses Gericke, visepresident van SWD-atletiek en Shireen Noble, visepresident van Atletiek Suid-Afrika, verwelkom Elroy Gelant in George. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'