GEORGE NUUS - Ds. Christian Jeffrey (Chris) April, ’n bekende in George en die Suid-Kaap, is op Donderdag 16 Julie in Kaapstad oorlede. Hy was 87 jaar oud.
April is op 9 Maart 1939 in Kaapstad gebore en het in 1970 na George verhuis om diep spore as predikant, politikus en gemeenskapswerker te trap.
’n Voormalige joernalis van George Herald, Eugene Gunning, het in 2021 oor hom berig toe hy ná 50 jaar George vir die Kaap verruil het om nader aan sy familie te wees. Terwyl hy in George gewoon het, was April net vir tussenposes weg toe hy in die politiek betrokke geraak het.
Hy het as minister van gesondheid in die destydse Raad van Verteenwoordigers in die driekamerparlement gedien en was bekend vir sy stryd vir menseregte en gelyke geleenthede. Volgens Gunning was hy een van die parlementslede wat in Januarie 1987 in Port Elizabeth in die see gaan swem het as deel van ’n protesaksie teen apartheid.
Sy seun, dr. Gavin April, onthou hom as ’n liefdevolle pa, oupa, ’n steunpilaar vir sy menigte vriende en dienaar van sy medemens, veral die agtergeblewe gemeenskappe.
Volgens Gavin het sy pa arm grootgeword. “Sy pa is oorlede toe hy 10 jaar oud was en sy ma, ’n huishulp, het haar drie kinders alleen grootgemaak. Hy was ’n vegter vir menseregte en wou net aan almal ’n gelyke kans in die lewe gee,” sê hy.
Hy was bekend vir sy sin vir humor en aansteeklike lag. “My pa het ’n bulderende lag gehad wat ’n kamer kon lig. Hy het geglo in sy Meester en God, en was vas oortuig dat alles wat hy op aarde vermag het, deur die Here se genade moontlik gemaak is.”
Met sy vertrek na Kaapstad in 2021 het die bestuurder van Huis JJ Watson, dr. Okkie Stander, gesê hy laat ’n groot leemte. Hy het April beskryf as professioneel, vriendelik en iemand wat altyd mense wou help.
April laat sy kinders, Gavin, Lynne en Alison, hul eggenote en vyf kleinkinders agter.
Die begrafnisdiens vind op Saterdag 25 Julie om 11:00 by die Verenigende Gereformeerde Kerk, Canarystraat, Rosemoor, plaas. ’n Gedenkdiens word op Maandag 27 Julie om 10:30 by St. James Church in Kenilworth, Kaapstad, gehou.
Boodskappe van meegevoel kan gestuur word na [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’