GEORGE NUUS - Op 54-jarige ouderdom verruil Gaston Lehmann sy tuisdorp, Bloemfontein en sy veilige werk as loodgieter en ketelmaker vir die lewe van ‘n professionele musikant in George.
In 2015 maak hy sy eerste CD “Kitaar is my Taal” en word vir ‘n Ghoema genomineer. Hy het ‘n kitaar begin vashou op agt en ernstig begin speel op 13. Alles net op gehoor.
En oor die jare, tussen werk, getroud wees met Riesa en as pa van twee kinders, bly hy speel. En bly droom. Tot hy sy droom in 2015 ‘n werklikheid maak.
“As ek kon, sou ek ‘n koorafrigter wees vir ‘n Engelse katedraalkoor.” Dít is die versugting van Jaco Kriek.
Jaco Kriek sing vir jare in kore en is reeds vir meer as 20 jaar ‘n optometris in Oudshoorn. Baie jare gelede kry hy ‘n CD van saksofoon- en orrelmusiek, en hy wonder…
Vier en ‘n half jaar gelede hoor hy ‘n st. 4 seun saksofoon speel by Laerskool Outeniqua, en eensklaps weet hy! ‘n Jaar later koop hy ‘n saksofoon vir homself as vadersdaggeskenk en begin oefen - meesal met die hulp van YouTube videos. Hy het al meer as 1 000 ure se oefening agter die blad en het sy eie kenmerkende styl op hiedie blaasinstrument. En dit terwyl hy voltyds werk, getroud is met Nadine en pa is van twee kinders.
Gaston en Jaco ontmoet mekaar verlede winter by die Outeniqua-mark en die twee musikante kliek dadelik. Sedertdien bekoor Brass Strings gehore dwarsoor die Suid-Kaap met hulle kenmerkende klank.
Gaston Lehmann
Op Vrydagaand 21 Desember hou hulle ‘n dromerskonsert by Bistro Celeiro op die Sewepassepad tussen Hoekwil en Karatara. Eienaars Susan en Julio Agrella het ook durf droom as ouer mense, ‘n stuk grond gekoop en ‘n restaurant ver van alles begin. Vandag is dit een van die gunsteling wegkom-kuierplekke in die omgewing.
“Ons wil graag almal uitnooi, hulle wat droom, hulle wat hulle drome verwesenlik, en hulle wat te bang is: kom kyk en luister wat kan gebeur as jy besluit om jou drome na te streef.”
Jaco Kriek.
Die toegangsgeld van R110 gaan ten volle na die kunstenaars. Die Bistro sal kos verkoop, maar neem jou eie wyn en stoele en gaan geniet die klanke van Brass Strings in ‘n pragtige landelike omgewing. Bel 044 850 1026 vir besprekings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'