Gallery
GEORGE NUUS - Vanjaar se Garden Route-eisteddfod het hul hekke wawyd oopgemaak vir die kunste. Sang- en dramastudente in die Suid-Kaap het vir die eerste keer 'n geleentheid gehad om hier deel te neem.
Dansinskrywings was oorheersend, met meer as 700 inskrywings. Vir die musiekafdeling is sowat 40 inskrywings ontvang en 15 inskrywings vir drama.
Fotogalery: Room van die kunste-eisteddfod
Altesaam agt dansskole, verskeie dramastudente aan plaaslike laerskole, sowel as privaat inskrywings en vier plaaslike musiekskole het deurgedring na die gesogte galavertonings waar die room van die verskeie items aan die publiek ten toon gestel word.
Die vier galavertonings het verlede Vrydag en Saterdag, 15 en 16 Oktober plaasgevind, met 'n prysuitdeling vir toppresteerders verlede Saterdag tydens die aandvertoning.
Cover me in sunshine deur dansers van Abbi Geldenhuys Academy of Ballet.
Ligpunt vir die kunste
Organiseerder Lizette Gerber, eienaar van Rhythmical Seeds, het na die afloop van die eisteddfod en galavertonings gesê dat sy en Alida Gerber-Lategan oorweldig is met die ongelooflike ondersteuning van skole, ouers en studente vir vanjaar se eisteddfod: "Dit was 'n absolute ligpunt vir kunste in 2021. Elke gesiggie wat straal op die verhoog, die gespeel en gelag van ons kinderkunste-gemeenskap so tussen optredes, die ouers wat staan en kuier om die koffiekar of in die teater se koffiehuis, en vir ons as onderwysers en organiseerders die kans om saam ons studente te vier. So 'n klein stukkie normaliteit in die hartseertye. Soos ons galavertonings se tema genoem het: "art is non-essential, until it's not".
Volgens Gerber was hulle, soos met enige organisering van byeenkomste in die nuwe Covid-19-tyd, daagliks gekonfronteer met die aanpassing van reëlings op kort kennis, maar sy voeg by dat die opgewondenheid van kinders en die ouers enige struikelblok oorheers.
"Toe ons verneem dat daar nie 'n ander geleentheid vir drama- en musiekafdelings is nie, het ons op nommer 99 besluit om afdelings vir drama en sang te open," het Gerber gesê. "Ons hoop om in 2022 nog afdelings te open sodat soveel as moontlik kinders die geleentheid kry om deel te neem."
Henco Bester, 'n gr. 9-dramastudent aan Hoërskool Outeniqua het Artist van Madhu R voorgedra, 'n sangitem, Neverland, gelewer en 'n stuk wat deur die organiseerders self geskryf is, Quotes by the Greats, voorgedra.
Ons was daar!
Die dansskole wat by die galavertonings verteenwoordig is sluit in Marlise School of Spanish Dance, Balare Ballet School, York High, Rhythmical Seeds, Rhythmical Seeds Mossel Bay, Carmen's School of Dance en Abbi Geldenhuys Academy of Ballet.
Dramaleerders van Hoërskool Outeniqua, Laerskool George-Suid, Holy Cross Primary en Glenwood House het deelgeneem.
Musiekskole wat by die gala verteen-woordig is sluit in Suid-Kaap Musiek Akademie, Lida de Villiers, Planet Play Music Academy en Hoërskool Outeniqua.
Lila Gerber (5) van Planet Play Music Academy het harte gesteel met haar aanbieding van Rise Up.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'