Update
SUID-KAAP NUUS - Met die misreën wat op Saterdag 20 Januarie kort-kort uitgesak het, was dit kompleet of die Engele ook gehuil het oor die tragiese dood van Stefan Marais, 'n gr. 11-leerder aan die Hoër Landbouskool Oakdale.
"Oakdale is verslae, maar nie verslaan nie. Stefan se dood sal ons motiveer tot uitnemendheid ten einde sy doelwitte en aspirasies namens hom uit te leef.
"Die hand van broederskap en samehorigheid sal steeds sterker groei, maar Stefan Marais sal soos 'n Altus Botes 'n legende op Oakdale bly," het André Latsky, skoolhoof van die Hoër Landbouskool Oakdale, aan Suid-Kaap Forum, George Herald se susterkoerant gesê.
Simpatiebetuigings aan die ouers, familie en vriende, maar ook aan die skool het op sosiale media ingestroom.
Stefan (16) was sedert Vrydagmiddag 19 Januarie vermis nadat hy en 'n groot groep Oakdalers by die riviermond op Stilbaai aan spanbou-aktiwiteite deelgeneem het.
Volgens inligting het hy nie saam met hulle op een van die vyf busse na Riversdal teruggekeer nie.
Sy klere is by die riviermond gevind en aanvanklik het die plaaslike NSRI met die soektog gehelp, maar later is polisieduikers se hulp ook ingeroep omdat die vermoede ontstaan het dat hy moontlik kon verdrink het.
Die soektog moes later gestaak word as gevolg van swak lig en is Saterdagoggend voortgesit.
Stefan se lewelose liggaam is om 12:30 deur Kobus Crous, eienaar van Mossel Bay Helicopters wat met die soektog gehelp het, vanuit sy helikopter opgemerk.
Crous het aan Nickey le Roux van die Mosselbaai Advertiser gesê dat Stefan se pa, Pine, saam met hom in die helikopter was toe hulle sowat 300 meter van die monding iets in die Goukourivier gewaar het.
By nadere ondersoek het dit geblyk dat dit wel die liggaam van Stefan was, waarna hy die polisie-eenhede in kennis gestel het.
Inwoners en reddingwerkers op die toneel.
Hoewel die hoop skraal was dat Stefan lewend gevind sou word, het dié ontdekking steeds skokgolwe deur die groot groep mense wat by Lapskuit saamgetrek het, gestuur.
Selfs diegene wat Stefan nie geken het nie en wat met die soektog gehelp het en ander wat daar was vir bemoediging aan die familie, vriende en leerders van die skool, was aangedaan.
Trane het openlik gevloei en verskeie groepies het gevorm en gebede het opgegaan.
Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, wat Saterdag vir 'n groot deel van die soektog en tot op die laaste teenwoordig was, het ook sy medelye aan die ouers, Pine en Petrusa, asook die familie en vriende betuig.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het gesê dat 'n geregtelike doodsondersoek gedoen word.
'n Lykskouing is Dinsdag 23 Januarie op Oudtshoorn uitgevoer, maar die uitslag daarvan was teen druktyd nie bekend nie.
Latsky, wat ook vir die duur van die soektog op die toneel was, het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hierdie 'n fratsongeluk is wat die skool 'n harde slag toegedien het.
"Stefan was 'n model-leerder wat in akademiese en op sportgebied uitnemend presteer het.
"Sy voorbeeldige en Christelike lewenswandel was vir almal in sy omgang 'n absolute voorbeeld.
"Hy was 'n Oakdale-seun wat hier op die terrein onder personeel se oë grootgeword het en is hy eintlik ons as personeel se 'eie kind'.
Pienaar Marais, met die groen en wit baadjie aan, help met die soektog.
"Die Oakdale-leerders het 'n broer verloor en het 'n morbiede atmosfeer die week op Oakdale geheers."
Stefan se pa, Pine Marais het Maandag 22 Januarie met die Oakdalers in die saal gesels en 'n besondere motiveringsboodskap en sy lojaliteit aan die seuns oorgedra, waarna hy met staande applous deur die seuns toegejuig is.
Die Marais-gesin word oorval deur goeie wense en ondersteuning deur vriende, kollegas en die gemeenskap waarvoor hul opregte dank betuig.
"Afgesien van die hartseer en droefheid, was ons as Oakdale-gemeenskap só beïndruk en dankbaar vir die warm harte van die Stilbaai-gemeenskap tydens die soektog.
"Ek spreek graag ons opregte dank uit vir die kos, koffie, flitse, bote en hulp wat tot ons beskikking gestel is. Die Stilbaai-gemeenskap het in ons harte ingekruip.
Die nuus dat Stefan se lewelose liggaam gevind is, was oorweldigend vir meeste van die mense op die toneel. Foto: San-Marié Cronjé.
"Die ondersteuning van die burgemeester, Grant Riddles, was vir ons baie werd, asook die aanbod van OK Stilbaai om ons van koeldranke, vrugte en kos te voorsien.
"Uit 'n baie moeilike situasie het ons verseker ervaar dat mense se liefde en warm harte vir ander iets is wat ons in die Suid-Kaap moet koester."
Stefan se gedenkdiens vind Vrydag 26 Januarie om 11:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente plaas.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'