Update
GEORGE NUUS - Die bestuurders van kleuterskole wat deur George-munisipaliteit besit word, moet jaarliks hul wenslysie vir instandhoudingswerk deurgee sodat die owerheid daarvoor kan begroot.
So het die direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, gesê na aanleiding van probleme wat deur Rosedale Educare Centre ondervind word.
Lees 'n verwante artikel: Klaskamers onder water met reënweer
Dié kleuterskool huur die perseel en skeepsvraghouers wat as klaskamers gebruik word teen R20 per jaar by George-munisipaliteit.
Die kleuters van Rosedale Educare Centre moes verlede Woensdag skuiling soek in droeë dele van hul klaskamers terwyl dit buite stortreën.
Die skoolhoof, Clarissa Groenewald, het gesê die munisipaliteit kan meer doen om hulle by te staan, en die klaskamers waterdig maak.
Lubbe het gesê die herstel van daklekke en die veiligheidsaspekte by alle crèches van die George-munisipaleiteit word as 'n prioriteit behandel.
Hy het onderneem om die dak van die skeepsvraghouer onmiddellik te herstel.
"Die afdak waarvan die bestuurder praat, sal ook op die begroting geplaas word.
Dit waarborg egter nie dat die begrotingskomitee dit sal goedkeur nie," het hy gesê.
Lubbe het gesê die munisipaliteit beskik nie oor die finansiële kapasiteit om tans kleuterskole te bou nie, daarom word skeepsvraghouers as 'n interim maatreël aan gemeenskappe beskikbaar gestel vir kleuterskooldoeleindes.
"Dit is belangrik dat die bestuurders van die kleuterskole ook borge van elders moet kry om hulle bestaande kapasiteit uit te brei en nie net op die hulpbronne van die munisipaliteit moet staatmaak nie," het hy gesê.
"Die Rosedale Educare Centre word tans deur die weermag geborg wat van plan is om die skeepsvraghouers te verf, vloere te vernis en ook stukkende veselsementpanele te vervang.
'n Nuwe kleuterskool wat uit sewe skeepsvraghouers bestaan, gaan ook vanaf Januarie 2018 in Rosedale aangebring word."
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'