Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dit is eendeweer en almal wil knus onderdak sit. Ongelukkig is party plekke se "onderdak" taamlik onder water.
Die kleuters van Rosedale Educare Centre moes Woensdag skuiling soek in droë dele van hul klaskamers - skeepsvraghouers - terwyl dit buite stortreën.
Skoolhoof Clarissa Groenewald is baie ontsteld oor die toestand waaronder die skool bedryf moet word.
Sy voer aan George-munisipaliteit kan meer doen om hulle by te staan, en die klaskamers waterdig te maak.
Die perseel word by die munisipaliteit gehuur.
"Ons bestaan al vir ses jaar, waarvan ek die laaste twee jaar aan die stuur is," het sy gesê.
"Ons pleidooie om hulp val op dowe ore. Geen instandhouding word gedoen nie. Die grond buite is pure modder wanneer dit reën.
"Ek vrees vir die veiligheid en gesondheid van die kinders."
Skoolhoof Clarissa Groenewald (middel), haar dogter Kelly-Kay Mackenzie (voor) en die kok, Eleen Wildemans, in een van die stukkende klaskamers. Die vloer is papnat en die muurpaneel het gebreek.
Die kleuterskool bedien sowat 40 kinders, waarvan sommige babas is. Die inkomste wat deur skoolfondse gegenereer word is skaars genoeg vir die vyf personeellede se salarisse. Die skool voorsien ook daagliks etes vir die kleuters.
Kyk 'n video hieronder.
Volgens Groenewald kan hulle ongelukkig nie 'n staatsubsidie ontvang nie, want die skool het die gesondheidsinspeksie gedruip. Hulle kan dus nie as 'n nie-winsgewende organisasie registreer nie.
George-munisipaliteit se kommentaar kon nie die George Herald voor druktyd bereik nie.
Skoolhoof Clarissa Groenewald is baie ontevrede met die toestand van die toilette, wat nie "kinder-vriendelik" is nie.
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'