GEORGE NUUS - Op 95 het Betty Franken van Wilderness 'n lewendige glinstering in die oë wat 'n gees weerspieël wat nog glad nie geblus is nie.
Die feit dat sy ná 'n beroerte twee jaar gelede nie meer goed kan hoor nie en met krukke oor die weg moet kom, sit haar nie af wanneer sy geselskap voer nie.
As jy wil vrae vra of iets sê, gebruik jy 'n skryfbord of haar dogter van Durban, Driekie Badenhorst, praat reg by haar een oor, en dan is tannie Betty reg met 'n antwoord.
Met haar geheue skort daar niks.
Tannie Betty woon by haar seun, Japie Vermeulen in Lakeweg, maar het tot twee jaar gelede nog haar eie ding gedoen in haar eie plekkie in die aftreeoord op Hoekwil.
Sy het onder meer sjokoladekoeke gebak en verkoop en was lief om in haar tuin te vroetel, wat 'n paar keer as die beste in die dagsorgsentrum aangewys is.
Driekie vertel dat haar jonk-van-gees ma na die ander inwoners verwys het as "die ou mense", want hulle was nie lewendig genoeg na haar sin nie.
Weens die beroerte kan sy nie meer bak en brou nie, maar sy lees baie graag en is nog lid van die biblioteek.
Sy bly ook op hoogte van die 7de Laan-sepie.
Met 'n voorliefde vir die natuur, geniet sy haar lieflike stoep vanwaar sy oor die meer kan uitkyk en die bosbokke haar af en toe verras.
En as die wiele draai, ry sy gretig saam.
Sy was baie lief vir treinry en onthou talle uitstappies met die Power Van. Sy behoort nou nog aan die Spoorwegklub.
Tydens 'n kuiertjie by tannie Betty deel sy 'n koekresep uit een van haar twee ou resepteboeke. Die vergeelde papier en vetkolle getuig van baie gebruik.
"Die boeke is so oud soos ek," gesels sy terwyl sy daarin blaai om die resep te soek.
Betty Franken het op 7 Oktober 'n rype 95 jaar gevier.
Sy onthou in besonderhede die reis as jong kind saam met haar ouers op 'n ossewa van Britstown af na George oor die Montagupas.
"By die tolhuis moes my pa sy laaste pennie vir tolgeld betaal," vertel sy.
Die gesin (daar was drie broers en vier susters) het hulle in Karatara gevestig waar tannie Betty skoolgegaan het tot standerd 3. Haar bosbouerpa het by Bergplaas gewerk.
Hulle het uiteindelik Kaap toe verhuis.
"Daar het ek grootgeword. My ouers het my op 16 uit die skool gehaal en ek het ná skool in die Nugget-fabriek gewerk.
Dit was in die oorlogsjare en Nugget het skoenpolitoer vir die soldate gemaak.
In daai dae moes 'n mens koepons hê om petrol te koop en ons moes toustaan vir kos.
Saans mag daar nie ligte in jou huis gebrand het nie. Ons het net uitgegaan as daar genoeg maanlig was."
Sy het al haar broers en susters, en drie mans oorleef.
Sy het haar 23 jaar gelede saam met haar derde man in Wilderness gevestig, in die huis waar sy nou by haar seun woon.
Sy het drie kinders, ses kleinkinders, sewe agterkleinkinders en een agter-agterkleindogter.
Tannie Betty se raad vir 'n lang en gelukkige lewe is, "Jy moet net glo, en doen wat jy moet doen sonder om te kla. En as jy kwaad word, moenie kwaad bly nie. My hele lewe was goed, al het ek swaar gehad. Ek het nie gekla nie. Ek het die lewe geniet soos ek hom gekry het."
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'