GEORGE NUUS - As jy 'n reuse versierde Kersboom met letterlik duisende liggies wil sien, moet jy 'n draai gaan maak in Heatherpark, George.
Daar op die hoek van Meent- en Pinestraat staan die boom in die erf van Fanus en Zalinda Truter. Die boom, wat meer as 18 m die lug in toring, het sowat 5 000 liggies.
Die liggies is Vrydagaand, 5 Desember, aangeskakel en die plan is om dit eers teen 10 Januarie af te skakel. Dit word elke aand om sowat 20:00 aangeskakel.
Dit brand die hele nag tot die son die volgende oggend opkom. Dit verskaf elke jaar groot vreugde en dikwels ry mense stadiger daar verby of stop selfs om die boom te bewonder.
Die Truters het in Januarie 2003 daar ingetrek en Zalinda het destyds besluit dit is haar boom. Haar droom was om eendag die boom vol liggies te versier en 'n ster heel bo-op te sit.
Daardie jaar in Desember het hulle een lang string liggies opgesit. Dit was 'n klein begin en hulle het sommer 'n leer en 'n besemstok gebruik om die liggies op te kry.
Sedertdien het dit baie uitgebrei en elke jaar het hulle nog liggies gekoop. Deesdae gebruik hulle selfs 'n hidrouliese hyskraan (cherry picker) om die boom te versier.
In 2012, drie dae voor Kersdag, het 'n ramp hulle getref. Booswigte het in die vroeë oggendure al die boom se liggies en ander toerusting gesteel. Dit het hulle egter nie van stryk gebring nie. In 2013 het hulle van voor af begin met die aankoop van liggies vir die boom.
Dit verg wel harde werk en kos geld vir die elektrisiteit, maar die Truters kla nie. "Dit verskaf so baie vreugde," het Zalinda Maandag aan George Herald gesê.
Zalinda moedig ander inwoners aan om ook Kersliggies by hul woonplekke aan te bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’