OUDTSHOORN NUUS – ’n 24-jarige vrou van Oudtshoorn is in hegtenis geneem op ’n aanklag van dwelmhandel nadat polisielede tydens ’n Veilig Feesseisoen-operasie onwettige dwelms met ’n geskatte straatswaarde van R620 000 by haar huis ontdek het.
Op Woensdag 10 Desember 2025 het lede van die Oudtshoorn SAPD se Misdaadvoorkomings-eenheid ’n deursoekingsbevel by ’n woning in Klapperbos Court, Bridgeton, uitgevoer.
Terwyl hulle die slaapkamer deursoek het, het hulle vyf sakke met tik en mandrax agter die bed gekry. Beamptes het met die soektog voortgegaan en nog tik tussen klere in die kas ontdek.
In totaal is net meer as 1,4 kg tik en 2 500 Mandrax-tablette gekonfiskeer. Die vrou is op die toneel in hegtenis geneem.
Sy word verwag om môre (Vrydag 12 Desember) in die Oudtshoorn-landdroshof te verskyn.
Speurders van die Wes-Kaap Provinsiale Georganiseerde Misdaadondersoeke (Narkotika)-eenheid wat in George gebaseer is, ondersoek die saak.
Die Wes-Kaap se Provinsiale Kommissaris, Luitenant-generaal (Adv) Thembisile Patekile, het die beamptes geloof vir hul pogings en vir die verwydering van die dwelms uit die gemeenskap.
Van die dwelms wat gekonfiskeer is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’