Gallery
GEORGE NUUS - Die bouer van die Ballotsbaai-bergpas, die privaat toegangspad na die asemrowende Ballotsbaai Privaat Natuurreservaat, was nie Thomas Bain in opdrag van ds. Johan Ballot nie, maar Georgiet Christo Cloete.
Op aanlynwebtuistes word verkeerdelik na die pad verwys as 'n geskiedkundige pas wat na die baai lei en in die 1800's in opdrag van die eertydse dominee van die NG Moedergemeente gebou is.
Ds. Ballot en Bain se pad volg egter nie dieselfde roete as dié van Cloete wat in 1993 voltooi is nie.
"Daar is nog steeds klein gedeeltes van ds. Ballot se pad sigbaar in die valleie en klowe aan die oorkant van die Meulenrivier, maar dit is twee verskillende paaie," sê Cloete se dogter, Pauline Cloete wat George Herald genader het met die versoek om die feite reg te stel.
Cloete het die eiendom, wat tussen Them-balethu en die see geleë is, in 1984 van Marius de Swardt deur die eiendomsagent Adam Botha gekoop. Beesboerdery vir meer as 100 jaar het die natuurlike plantegroei vernietig en onwettige storting het groot gedeeltes ontsier, maar die skoonheid van die omgewing het hom dadelik aangegryp. Die transaksie is 'n jaar later deur middel van Boland Bank beklink.
Toe hy en sy vrou, dr. Susan Arnold in 1989 na die Tuinroete verhuis om nader aan Ballotsbaai te wees, was Cloete se visie om "die eiendom te deel met ander natuurliefhebbers, om dit ten einde te bewaar".
FOTOGALERY: Ballotsbaai-bergpas: Ware feite
Ná 'n stryd van twee jaar vermag hy 'n ooreenkoms met John Tanner, destydse uitvoerende hoof van T & B Log Homes, ingevolge waarvan 'n beperkte aantal individue mede-eienaars van Ballotsbaai kon raak. Hulle voetspoor was beperk tot 'n houthuis elk met minimum versteuring van die natuur. Cloete het met die dienste vir die ontwikkeling en mettertyd ook met die rehabilitasie van die omgewing begin. Met behulp van 'n klein span arbeiders, het hy duisende uitheemse plante en bome met inheemse spesies vervang.
Christo Cloete en sy pa, Jan, saam met 'n klein span arbeiders het die Ballotsbaai-kapel in 1994 voltooi.
In 1993 is die projek byna ontspoor weens openbare oproer in Thembalethu ná die moord op Chris Hani in April. Op daardie stadium was die enigste toegangsroete na Ballotsbaai deur Thembalethu.
Tanner se ultimatum aan Cloete was dat hy sy ondersteuning van die projek sou onttrek as 'n alternatiewe roete nie gevind word nie.
Cloete was letterlik in 'n hoek vasgekeer - hy moes net eenvoudig 'n alternatiewe toegang kry. "Ek het begin stap en kruip deur die valleie, klowe en bosse op soek na 'n moontlike roete. Ek het met tye hande viervoet gekruip waar dit meestal onmoontlik was om regop te loop."
Hy vertel dat hy plek-plek met 'n swaardiens-snoeiskêr moes oopsny om te kon deurkruip. "'n Arbeider het agter my aangekruip en my dan aan my voete teruggetrek wanneer ek in haak-en-steek dorings vassit en waar daar geen alternatiewe moontlikheid na enige kant toe was nie."
Hy het uiteindelik geëindig by 'n punt waar die Meulenrivier oorgesteek moes word.
"Dit was 'n geval van geen pad, geen projek, so ek moes dit maak werk. Ek het daar, steeds op my hande en knieë, gebid en die Skepper beloof dat ek 'n kerk vir Hom sou bou as Hy my sou help om oor die rivier te kom. 'n Paar minute later het ek besef dat ek nie met God kan onderhandel nie en ek het beloof om 'n kerk te bou, maak nie saak wat die uitkoms sou wees nie."
Dis reg by daardie punt waar die suidelike toegang tot die Groen Hangbrug op die Ballotsbaaipas vandag geleë is.
Die hangbrug, ontwerp deur Gerrit Nieuwoudt en gebou deur T & B Log Homes.
Brûe
"Die eerste wonderwerk was 'n siviele ingenieur van Knysna, Gerrit Nieuwoudt, wat met 'n houthangbrug-ontwerp te voorskyn gekom het. Dit het beteken T & B kon dit self bou om kostes te bespaar," vertel Cloete.
John Urban van Urbans-saagmeule het ook sonder meer toestemming gegee vir die pad om oor 'n gedeelte van hulle grond te loop. Die tweede brug, oor die Kliprivier, het Cloete self ontwerp en gebou met die "boer maak 'n plan-metode". Die pas is baie smal en steil met skerp draaie, 'n projek wat hy nie sonder geloof en passie vir 'n groter doel sou kon realiseer nie. Dit het bloedsweet gekos.
"Die botanis Mike Viviers van Blijdschap-kwekery het betrokke geraak en hulle het duisende saailinge verskaf vir rehabilitasie. Die pad is in 1993 voltooi. Die pas het ook moeilike terrein bereikbaar gemaak sodat ek en my span tonne uitheemse plantegroei in en langs die rivierlope kon ringbas."
Na baie jare se rehabilitasie werk en opruiming van vullis is die natuurskoon van die omgewing herstel tot sy oorspronklike, inheemse glorie en vandag is die area 'n inheemse paradys waar voëls en ander spesies floreer.
Kapel word gebou
Cloete het sy gelofte in Mei 1994 begin nakom en met sy pa, Jan Cloete, en die arbeiders se hulp, is 'n pragtige klipkapel in die Ballotsbaai-reservaat opgerig met 'n onbelemmerde, uitgestrekte uitsig oor die oseaan. Die projek is binne ses maande voltooi. Baie spesiale eredienste is al in die kapel gehou en vele huwelike is en word vandag nog hier voltrek.
• Van die onwaarhede wat oor die kapel op die internet geplaas is, sluit in dat dit oorspronklik as 'n poskantoor vir verbygaande skepe gebou is en later deur ds. Ballot in 'n kapel verander is.
Die tweespoorraamwerk vir Ballotsbaaipas word gelê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'