GEORGE NUUS - Een honderd dames het onlangs bymekaargekom en heerlik saamgekuier by Laerskool Van der Hoven op Sinksabrug se jaarlikse damestee in die saal van die NG Kerk Tuinedal, maar min het hulle geweet dat dit een van die sprekers, Anja van Niekerk (41), se laaste openbare byeenkoms sou wees.
Ongeveer 'n maand na die byeenkoms wat op 26 Mei plaasgevind het, het Van Niekerk Saterdagoggend haar moeilike stryd teen kanker verloor. Die Maandag na die byeenkoms is sy inderhaas weer in die hospitaal opgeneem nadat kankerselle opnuut weer by haar gediagnoseer is.
Hierdie jaar se tema van die damestee was 'Pink Cappuccino' aangesien dit ‘n middagkuiertjie was en baie op kanker gefokus het. Elke tafel het ‘n gasvrou gehad en elkeen was uniek gedek wat op sigself interessant was om te sien. Dit het ook bygedra tot die kleurvolle atmosfeer wat geskep is.
'n Woordvoerder van Sanlam het die dames toegespreek oor 'Dames en Finansies' terwyl Tersia Fourie van Kansa hul touwys gemaak het oor tekens van kanker waarvoor veral in die moderne tyd uitgekyk moet word.
Van Niekerk het meer oor beenmurgoorplanting, wat sy in haar stryd teen kanker deurgemaak het, vertel terwyl Betsie Stols haar hart oopgemaak het oor haar eie stryd teen die groot K.
Daar is gehuil, gelag, gesellig verkeer en heerlik gesmul aan die vingerhappies en cappuccino’s.
Die gasvroue wat hard gewerk het om die byeenkoms 'n sukses te maak is agter, van links; Renè Mama, Leonore Snyman, Sunè Bezuidenhout, Lucinda Orie, Lydia Lamprecht en Anita Oosthuizen. Voor: Magda Bouwer, Santie Barnard en Marike Laube.
Die sprekers tydens die damestee was van links: Betsie Stols, Aneska Jansen v Rensburg (seremonimeester), Anita Oosthuizen (skoolhoof), Anja van Niekerk en Tertia Fourie (hoofgasspreker).
Die organiseerders het veral die borge, NG Kerk Tuinedal (saal), Callie Henn (klank), Sanlam, Guest Soapies, Annamare Buchults (blomme), Tupperware (Liesl du Toit), Margot Swiss, Diskonto, Shiela Jonck, Calitzdorp Koöperatiewe Wynkelder, Caxton, Henties, Verimark (Leonore Snyman), mnr. en me. Fockens (Beauty Treatments), Kontrei Padstal, Emmarentia Bower, Arno Stopforth, Die Ou Pastorie, Menigo Beauty (Jossica) en Beatrix Wells (foto's) bedank vir hul steun.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'