GEORGE - Mnr. André Janse van Vuuren, ‘n plaaslike eiendomsagent, en sers. Brendon Esterhuizen van die George-polisie verskyn Maandag weer in die Mosselbaai-landdroshof vir die onwettige besit van diamante.
Hulle is in Desember verlede jaar in Mosselbaai in hegtenis geneem deur lede van die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid van George en Kaapstad.
Die polisie het beslag gelê op gepoleerde diamante ter waarde van R42 000 wat in die verdagtes se besit gevind is.
Van Vuuren was ten tye van sy arrestasie verbonde aan die George-polisie se reservistekorps. Behalwe die kriminele klagte wat teen hom ondersoek word, is die polisie ook besig met ‘n dissiplinêre verhoor.
Groot ongelukkigheid heers tans onder polisiebeamptes verbonde aan die George-stasie omdat Esterhuizen steeds werksaam is.
Hulle meen hy is ‘n verleentheid vir die stasie en manne en vroue in blou.
"Ek is veronderstel om kriminele aan te keer, nie saam met hulle te werk nie," het een beampte wat anoniem wil bly, gesê.
Kapt. Malcolm Pojie, die polisiewoordvoerder, het erken dat Esterhuizen nie geskors is nie. Hy sê Esterhuizen is wel op verlof geplaas hangende die uitslag van sy dissiplinêre verhoor.
"Sers. Esterhuizen is met verlof hangende die uitslag van ons interne ondersoek. Die dokumentasie rondom die aanbeveling van sy skorsing is reeds na die provinsiale kantoor gestuur en die plaaslike kantoor wag nou vir uitslag daarop," het Pojie gesê.
Artikel: Lizette da Silva