Gallery Update
GEORGE NUUSFLITS - Van die 35 plaaswerkers wat in gisteraand se motorongeluk naby Redberry Farm beseer is, is 26 reeds ontslaan.
Van die 19 wat by die George-hospitaal behandel is, is 18 ontslaan en die pasiënt wat opgeneem is, is stabiel.
Volgens Mediclinic Suid-Afrika is daar nege pasiënte by Mediclinic George behandel waarvan agt reeds ontslaan is.
Die pasiënt wat opgeneem is, is ook stabiel.
7 pasiënte is na ander hospitale in die omgewing vervoer. Inligting rondom dié pasiënte is nog nie beskikbaar nie.
Die ongeluk het omstreeks 18:00 plaasgevind na ‘n vragmotor wat sowat 70 van Van Greunen-boerdery se plaaswerkers vervoer het, die pad verlaat het in ‘n poging om ‘n botsing reg van voor te vermy.
Die mense was op pad huis toe.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het ‘n Volkswagen-nutsvoertuig uit die rigting van die aarbeiplaas gekom en die vragmotor uit die teenoorgestelde rigting.
Die son het die bestuurder van die Volkswagen verblind waarna sy in die teenoorgestelde baan beland het.
Die vragmotorbestuurder het die ongeluk probeer vermy, maar die voertuie het mekaar met die sykant getref. Albei voertuie het op hul sy langs die pad beland.
Volgens een van die eienaars van die plaas, Christie van Greunen, het hulle geen wet oortree deur hul werkers op hierdie wyse te vervoer nie.
Die bestuurder van die nutsvoertuig is reeds ontslaan.
Hy het ook aan die George Herald gesê dat die groot vragmotor nie oorlaai was nie.
“Ons het baie mense wat vir ons werk en dit is maar die manier hoe ons nog altyd die mense vervoer het. Ons sal definitief in die nabye toekoms kyk na alternatiewe vervoer.
"Dis ‘n baie ongelukkige situasie, maar daar is mediese voorsiening vir almal gemaak. Ons is dankbaar dat daar min ernstige beserings is en niemand oorlede is nie. Ons fokus tans om almal te versorg en uit te sorteer,” het hy gesê.
Lees 'n vorige artikel: 26 beseer in ongeluk met trok
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'