Update
GEORGE NUUS - Die verhoor van sewe mans wat van die 2017-moord op Gershwin Verlaat (22) aangekla word, is vandag, Woensdag 19 Februarie, in die George-streekhof voortgesit met die getuienis van Shumare le Roux.
Vier van die verdagtes, Charldon Heynes, Marlen Wildeman, Kesharne Mostert en Brenton Pato is reeds sedert hul arrestasie in Desember 2017 in aanhouding.
In Junie 2018 is nog drie verdagtes, Kenneth Windwaai, Eswyn van Rooyen en Michael Campher in hegtenis geneem. Windwaai is op borgtog vrygelaat. Van Rooyen en Campher is steeds in aanhouding.
Die mans, almal tussen die ouderdomme van 20 en 30, word aangekla van moord met voorbedagte rade en/of moord in die uitvoering van 'n gesamentlike doel deurdat hulle na bewering vir Verlaat met verskeie skerp voorwerpe en onwettige wapens, op 2 Desember 2017 aangerand het.
Verlaat se liggaam is met ernstige kopwonde in Rosedale gevind. Dié aanval was na bewering 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19), omstreeks 01:00 die vorige nag naby sy huis doodgesteek is.
Tydens haar getuienis het Le Roux wat ‘n ooggetuie is, haar weergawe van gebeure tydens die beweerde wraakaanval aan die hof gegee.
Volgens haar kon sy slegs vir Heynes, Mostert en Van Rooyen op die moordtoneel identifiseer. Daar ‘n groot groep gewapende mans wat Verlaat aangerand het. Sy kon nie bevestig dat sy die ander verdagtes op die toneel gewaar het nie.
Weens ‘n gebrek aan tyd en ‘n vol hofrol, is die saak tot môre, Donderdag 20 Februarie, uitgestel wanneer die verdediging, Winston Jansen en Clayton Samson van Winston Jansen Prokureurs, Le Roux sal kruisondervra en ander getuies gehoor sal word.
Die saak dien voor landdros Praglathan Govender en Aspirito White is vir die staat.
Vorige artikels:
- Moordverhoor gaan in 2020 voort
- Rosedale-moord: Verhoor gaan in 2020 voort
- Moordverhoor begin in George-Streekhof
- Nog 3 vas vir Rosedale-moord
- Geen borgtog vir verdagtes in jongman se moord
- Verdagte in hof vir jongman se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'