Update
GEORGE NUUS - Die moordverhoor van sewe mans wat van die 2017-moord op Gershwin Verlaat (22) aangekla word, is Donderdagoggend, 28 November, in die George-streekhof voortgesit.
Vier verdagtes, Charldon Heynes, Marlen Wildeman, Kesharne Mostert en Brenton Pato is reeds sedert hul arrestasie in Desember 2017 in aanhouding.
In Junie 2018 is nog drie verdagtes, Kenneth Windwaai, Eswyn van Rooyen en Michael Campher in hegtenis geneem.
Windwaai is op borgtog vrygelaat. Van Rooyen en Campher is ook steeds in aanhouding.
Die mans, almal tussen die ouderdomme van 20 en 30, word aangekla van moord met voorbedagte rade en/of moord in die uitvoering van 'n gesamentlike doel deurdat hulle na bewering vir Verlaat met verskeie skerp voorwerpe en onwettige wapens, op 2 Desember 2017 aangerand het.
Verlaat se liggaam is met ernstige kopwonde in Rosedale gevind. Dié aanval was na bewering 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19), omstreeks 01:00 die vorige nag naby sy huis doodgesteek is.
Tydens haar getuienis het Roche Witbooi, 'n ooggetuie, haar weergawe van gebeure tydens die beweerde wraakaanval aan die hof gegee.
Volgens haar kon sy slegs vir Mostert op die moordtoneel identifiseer en later het sy vir Heynes saam met die groep mans gesien toe hulle verby haar gestap het.
Die hof het gehoor dat sowat 20 gewapende mans, almal sonder hemde, vir Verlaat aangerand het. Witbooi kon nie bevestig dat sy die ander vyf verdagtes op die toneel gewaar het nie en het gesê dis moontlik dat hulle daar was, maar dat sy hulle nie kon identifiseer nie.
Sy is onder kruisverhoor geplaas deur die verdagtes se regsverteenwoordigers, Winston Jansen en Clayton Samson, asook die staat, waarna die saak tot 5 Februarie 2020 uitgestel is.
Die saak dien voor landdros Praglathan Govender en Aspirito White is vir die staat.
IN SHORT The seven suspects accused of the murder of Gurshwin Verlaat (22) in 2017, appeared in the George Regional Court on Thursday 28 November where the murder trial continued. Four suspects, Charldon Heynes, Marlen Wildeman, Kesharne Mostert and Brenton Pato, have been in custody since their arrest in December 2017. In June 2018, three more suspects, Kenneth Windwaai, Eswyn van Rooyen and Michael Campher, were arrested. Windwaai was released on bail. During her testimony Roche Witbooi, an eyewitness, gave her account of events during the alleged revenge attack. The court heard that there were about 20 armed men, all without shirts, who assaulted Verlaat. The case was postponed until 5 February 2020.
Lees vorige artikels:
- Rosedale-moord: Verhoor gaan in 2020 voort
- Moordverhoor begin in George-Streekhof
- Nog 3 vas vir Rosedale-moord
- Geen borgtog vir verdagtes in jongman se moord
- Verdagte in hof vir jongman se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'