GEORGE NUUS - Die speelapparaat by die St Paul's-straatparkie in Denneoord spog nou met vars kleure, helder groen en oranje, danksy die inisiatief van 'n elfjarige dogtertjie én 'n paar toegewyde helpers.
Die jong meisie het onlangs 'n handge-skrewe brief aan raadslid Gert van Niekerk van die Vryheidsfront Plus gestuur waarin sy hom vra om die parkie te kom besoek.
"Die klimrame, swaaie, glyplanke en wipplanke is baie gevaarlik vir kinders om op te speel. Dis gebreek en vuil," het sy in haar brief geskryf.
Van Niekerk het haar versoek ter harte geneem en 'n nutsman en sy span genader om te help. "Ons was bietjie stout," het hy gelag.
"Ons het geen blou verf gehad nie, nou is die parkie se speelgoed groen en oranje."
Die nutsman, Deon Snyman, het ook van die apparate beveilig deur ligte herstelwerk te doen. Van Niekerk vertel dat hy toevallig 'n driekwartvol drom terracotta-kleurige verf gehad het. "Toe sê ek vir kollega Gert Niehaus, kry groen vir die dakkies, dan doen ons hom so."
Die dogter se ouers het die briefie via 'n gemeenskaplike kennis van die party aan Van Niekerk besorg. "Ons het besluit om dit verder te neem," sê hy.
"Dis belangrik om die drome van 'n kind waar te maak. George is ook al amper 'n stad. Ons is dankbaar dat ons kinders nog in parkies kan gaan speel. Kinders moet nog kinders wees."
Dié oulike storie het selfs die aandag van Radio Pretoria getrek nadat dit op die Vryheidsfront Plus se Facebook-blad gedeel is.
"Ons was bietjie stout, het Gert van Niekerk gelag. "Ons het geen blou verf gehad nie, nou is die parkie se speelgoed groen en oranje." Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
 
                 
                     
                     
                    
                    
                    
                    
                    
                 
                             
                         
                         
                 
                 
                 
                 
                 
                 
                                     
                                     
                                     
                                     
                                 
                                         
                                         
                                         
                                         
                                     
                                     
                                     
                 
                         
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                 
                                